On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

Mening: Politieke partye verenig in landboubeleid – Wandile Sihlobo

───   15:37 Mon, 01 Jul 2024

Mening: Politieke partye verenig in landboubeleid – Wandile Sihlobo | News Article
Wandile Sihlobo

“Dis baie belangrik dat die ministers van landbou, asook as grondhervorming en landelike ontwikkeling, die sleuteldoelwitte van al hierdie politieke partye bevredig.”

Wandile Siholob, hoofekonoom van die landbousakekamer, Agbiz, asook presidensiële raadgewer oor ekonomie, landbou en grondsake, deel ’n ontleding oor die beleidsraamwerke van drie partye binne die regering van nasionale eenheid.

Ná die onlangse verkiesingsuitslag op 29 Mei 2024 en die aanvang van die sewende administrasie, is die volgende stap om beleidsidees onder die regering van nasionale eenheid te heroriënteer. Met betrekking tot landbou, blyk die hoof- politieke partye, naamlik die ANC, DA en IFP, breedweg in lyn met mekaar te wees.

President Cyril Ramaphosa het Sondagaand (30/6) sy nuwe kabinet aangekondig as deel van die nuwe regering van nasionale eenheid. Hy het onder meer aangekondig dat die DA-leier  John Steenhuisen as minister van landbou sal dien met die ANC se Rosemary Capa steeds as die adjunkminister. Voortaan sal die Ministerie van Landbou geskei wees van die Ministerie van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, wat nou die PAC se Mzwanele Nyhontso aan die stuur het met die ANC se Chupu Mathabatha as sy adjunkminister.

ANC se landbouvisie en planne

Die ANC het onder die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan regeer, wat onlangs in die Landbou- en Agrobewerking Meesterplan gedistilleer is. Die doel is om ’n inklusiewe en mededingende landbou-ekonomie te bevorder. Hierdie benadering fokus op waardekettings en kommoditeitskorridors in verskeie streke van Suid-Afrika. Hoewel die implementering van die plan tot dusver beperk was, bly die entoesiasme hoog onder groot belanghebbendes in die sektor. Die ontbrekende element is die behoorlike sosialisering van verskeie regeringsamptenare op provinsiale en plaaslike vlak, wat noodsaaklik is vir die implementering van ’n plan wat op samewerking met die privaatsektor gesentreer is. Die ANC se landboubeleid het die beskikbaarstelling van byna driemiljoen hektaar staatsgrond aan begunstigdes met titelaktes ingesluit, ’n proses wat deur minister Thoko Didiza voor die einde van haar ampstermyn begin is.

DA se benadering tot landbou

Die DA se landboubenadering verskil nie veel van wat die ANC in sy boeke het nie. In hul 2024-manifes verklaar die DA dat hulle Suid-Afrikaners deur grondbesit sal bemagtig deur private grondbesit soos uiteengesit in artikel 25 van die Grondwet te beskerm. Die DA voeg by dat hulle regeringsgrond sal gebruik en die gebruik van grond wat deur die departement van landbou, bosbou en visserye en die departement van openbare werke en infrastruktuur besit word, sal prioritiseer. Verder sal die DA ondersteuning aan begunstigdes verbeter deur die institusionele kapasiteit van provinsiale strukture te versterk en gespesialiseerde eenhede binne provinsiale departemente te vestig wat uitsluitlik werk met die verskaffing van ondersteuning. Hierdie idees is breedweg in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan, die Landbou- en Agrobewerking Meesterplan en verskeie regeringsgeleide inisiatiewe soos die gemengde finansieringsinstrument.

IFP se standpunt oor landbou

Die IFP se posisie oor landbou en grondhervorming is eweneens in lyn met die idees van die ANC en DA. Die IFP verklaar dat die regering aansienlike staatsondersteuning moet verseker, veral vir nuwe toetreders tot die landboubedryf. Hierdie werk word reeds geïmplementeer deur die gemengde finansieringsinstrument wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in vennootskap met finansiële instellings uitrol. Die IFP redeneer verder vir vennootskappe, en stel dat die regering die betrokkenheid van beide die private en openbare sektore in die land se landbou-ontwikkelingsprosesse moet bevorder. Hoewel daar ’n mate van dubbelsinnigheid in die IFP se grondbeleid is, met hul steun aan die beleid van grondonteiening met billike vergoeding, is daar steeds groot samewerking in die IFP se landboustandpunte met dié van die ANC en DA.

Belangrikheid van samewerking

Dis baie belangrik dat die ministers van landbou, asook as grondhervorming en landelike ontwikkeling, die sleutel doelwitte van al hierdie politieke partye bevredig. Die kernprogram, wat die beginpunt sal wees, is die Landbou- en Agrobewerking Meesterplan, tesame met die voortdurende vrylating van staatsgrond aan begunstigdes met titelaktes en gemende finansiering in samewerking met die Landbank en ander finansiële organisasies. Die meesterplan bevat sleutelintervensies vir baie sektor-gefokusde kwessies wat groei in onlangse tye vertraag het. Kommunikasie met alle belanghebbendes op alle vlakke van die regering is van kardinale belang.

Regeringsamptenare en industriebelanghebbendes moet dus hul steun verleen aan die leier van hierdie sektor, ongeag van watter politieke party hulle kom. Die idees van al hierdie drie partye is in lyn en streef na die verbetering van die landbousektor en landelike gemeenskappe.

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.