Agriculture
‘NAMPO ’n simbool van die groei en krag van landbou’─── 20:39 Thu, 16 May 2024
“Ten spyte van al hierdie aanslae, het boere werklik na vore getree en sê ‘ons het hoop’.”
Dr. Pieter Groenewald, die leier van die Vryheidsfront Plus, het NAMPO Park buite Bothaville besoek vir die 56ste aflewering van die grootste skou in die suidelike halfrond.
Hy sê die tegnologie wat op NAMPO uitgestal word en die vooruitgang van die sektor wys die veerkragtigheid van produsente, ten spyte van geweldige uitdagings soos misdaad en hoë insetkoste.
“As ons hier rondbeweeg, sien ons die tegnologie en dit ten spyte daarvan dat daar geweldige aanslae is op ons boere, op ons landboubedryf. Dit is werklik vir my ’n simbool van die toekoms. Ek is oortuig dat ons sal voedselsekerheid hê, ongeag wat die politici sê of doen. Die boere sal nog altyd sorg dat ons kos het.”
Groenewald sê na aanleiding van terugvoer van produsente op die grond, is van die grootste uitdagings veediefstal.
“Ek het byvoorbeeld in die parlement omvattende vrae aan die minister van polisie gevra oor die omvang van veediefstal, nie net in die Vrystaat en die Noordwes nie, maar die hele land, en dis skrikwekkend. Nie net veediefstal nie, dis implemente, die oeste op die land.”
Volgens Groenewald versaak die regering nie net landbouers wanneer dit by die handhawing van wet en orde kom nie, maar sommige wetstoepassers is selfs aandadig.
Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus leier, by NAMPO Oesdag. Foto: OFM
“Dit is senior polisieoffisiere wat deel is van die sindikate, korrupsie wat daarmee gepaard gaan en dis daardie aspekte wat aangespreek moet word.”
Sy spesiale, bemoedigende boodskap aan landbouers is ’n danksegging. “Ten spyte van al hierdie aanslae, het boere werklik na vore tree en sê ‘ons het hoop’. En ek weet ook ons plaas daardie hoop in ons Hemelse Vader, want Hy sal sorg ook vir die toekoms.”
OFM Agri cg