Agriculture
Opkomende boere op Mier ontvang hulp─── 09:00 Mon, 15 Apr 2024
In ’n samewerkingspoging tussen die provinsiale regering en die Mormoonse kerk is 150 veevoer- en kospakkies Vrydag (12/4) aan boere van Klein Mier uitgedeel.
Die LUR vir Samewerkende Regering, Bentley Vass, en die burgemeester van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit, Michael Segede, het saam die noodvoorraad uitgedeel.
Bentley Vass en Michael Segede. Foto verskaf
Dié inisiatief is aangespoor deur Vass se vorige besoek aan die gebied in Maart, waar boere hulp gevra het ná verwoestende veldbrande wat hul oeste in Januarie en Februarie vernietig het.
Lede van die boerderygemeenskap byeen op Klein Mier. Foto verskaf
Tydens die gemeenskapsbetrokkenheid het die boere verdere bystand van die LUR versoek met hul watertekort wat deur ’n langdurige droogte veroorsaak is. Benewens hierdie dringende kwessie het hulle ook verskeie landboukwessies bespreek.
Kleinboere het voer en kospakkies ontvang. Foto verskaf
Vass het beloof om met die provinsiale landbou departement te skakel om doeltreffende oplossings te vind om die sukkelende boere te ondersteun.
OFM Agri cg