Agriculture
Grafte op plase – ken die wet─── 05:00 Mon, 11 Dec 2023
Ken jy die wet wanneer dit kom by begrawe op plase? Maak seker jy ken jou regte asook dié van naasbestaandes wat versoeke bring.
Weens die groot hoeveelhede onafgehandelde grondeise in Suid-Afrika, bly die oprigting van grafstene en begrawe op plase, veral van persone wat nie op plase bly nie, steeds ‘n omstrede kwessie.
Hans-Jurie Moolman, ‘n regskundige wat spesialiseer in grondkunde, verduidelik dat die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (ESTA-wet) die reg om ‘n afgestorwe familielid op ‘n plaas te begrawe, insluit.
Dit is ‘n gekwalifiseerde reg onderhewig aan sekere vereistes, onder meer dat die persoon op die plaas moes woonagtig wees ten tyde van afsterwe. Dan ook moet dit gevestigde praktyk wees om persone op die plaas te begrawe. Dit kan gebeur dat ‘n vorige eienaar dit toegelaat het, en grondeienaars word versoek om dit vas te stel.
Die reg om te begrawe moet ook voldoen aan die nasionale gesondheidswet, sekere plaaslike verorderinge, en provinsiale wetgewing wat begraafplase en begrafnisse reguleer.
In die geval waar begrafnisse op plase versoek word van mense wat nie op plase bly nie, is daar wel sekere vereistes wat gekoppel kan word aan die begrawe van persone. 'n Persoon wat ouer as sestig is en langer as tien jaar op ’n plaas woonagtig was se familie is geregtig om hulle op daardie plaas te begrawe, al was die persoon ten tyde van afsterwe nie op die plaas woonagtig nie.
“Ek wil graag beklemtoon dat die aanwesigheid van grafte op ’n plaas nie ’n basis skep vir ’n eis nie. Die vereiste in terme van die wetgewing, in besonder die Wet op Herstel van Grondregte, is dat ’n eiser moet kan bewys dat hulle familielede tussen 1913 en 31 Desember 1998 as gevolg van rasgebaseerde wette en praktyke verwyder is van grond.”
Die ESTA-wet, wat van toepassing is op mense wat op plase woon met toestemming, gee ook ’n reg aan okkupeerders of plaasbewoners wat van ’n plaas af sou trek om onderhewig aan redelike maatreëls van die eienaar om lewe en eiendom te beskerm, die plaas te besoek en grafte te besoek van naasbestaandes.
Moolman sê grondeienaars word ook dikwels gekonfronteer met ’n situasie waar persone wat vir baie jare lank nie die plaas besoek het nie, ook versoek dat daar besoeke aan grafte afgelê kan word.
“In daardie omstandighede sal dit baie belangrik wees vir die eienaar om goeie oordeel aan die dag te lê deur inligting aan te vra oor die beweerde oorledene. Ons het al in die verlede ’n tipe sekuriteitsvormpie ontwikkel waarin spesifieke vrae skriftelik beantwoord word en dan vir toekomstige verwysing op rekord gehou word.”
OFM Agri CG