Agriculture
Ondertekening van wetsontwerp oor landbougrond-bewaring verwelkom─── 05:00 Thu, 30 Jan 2025
John Steenhuisen, die minister van landbou, verwelkom die ondertekening van die Wetsontwerp op die Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond deur president Cyril Ramaphosa.
Hy sê in ’n verklaring op langtermyn sal die wetsontwerp voedselproduksie ondersteun asook die departement se doelwit om meer werk te skep en die ekonomie te laat groei.
Sedert die 2000’s is verskeie pogings aangewend om wetgewing te ontwikkel om die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet no. 70 van 1970) te vervang, aangesien waardevolle landbougrond teen ’n kommerwekkende tempo vir residensiële en mynboudoeleindes verlore gegaan het. Na raming is minder as 13% van Suid-Afrika se 122 miljoen ha grond landbougrond met hoë potensiaal.
Steenhuisen beklemtoon die verbetering van voedselsekerheid is een van die departement se sewe strategiese prioriteite. “Ons wil ’n omgewing skep waarin landbou kan floreer en om verseker die sektor skep broodnodige werk en voedselsekerheid.
Nasionale regulatoriese raamwerk
“Die vermoë om hoëpotensiaal-landbougrond vir hierdie doel te beskerm en te bewaar, is een van die noodsaaklike middele om hierdie doelwit te bereik.”
’n Advieskomitee, wat uit nie meer as tien lede sal bestaan nie, sal gestig word om raad te gee oor die bereiking van die oogmerke van hierdie wet, en enige ander aangeleentheid rakende die bewaring en volhoubare ontwikkeling van landbougrond.
Die wetgewing erken voorts die behoefte aan ’n nasionale regulatoriese raamwerk om die bewaring en ontwikkeling van landbougrond op ’n proaktiewe wyse te koördineer en om die fragmentering van landbougrond te voorkom, die verlies aan landbougrond te beperk, lewensvatbare boerdery-eenhede te bevorder en aan te moedig, die optimale gebruik van landbougrond en om voorsiening te maak vir voedselsekerheid.
OFM Agri mvh/mc