Agriculture
Landbounuus: Landbank se ondersoek na likwidasies, verkoop van plase verwelkom─── ELSABÉ RICHARD 14:16 Fri, 20 Oct 2023
"Verlede jaar is beweer verteenwoordigers van die bank het 'n proses georkestreer om sukkelende boere te likwideer en hul plase inderhaas te verkwansel teen pryse ver benede markwaarde."
Die Landbank se besluit word verwelkom om ondersoek in te stel na likwidasies en die verkoop van plase van boere wat gesukkel het om terugbetalings te maak. Verlede jaar is beweer verteenwoordigers van die bank het 'n proses georkestreer om sukkelende boere te likwideer en hul plase inderhaas te verkwansel teen pryse ver benede markwaarde. DA-LP Willie Aucamp, sê die party beywer hom vir beter ondersteuning van boere deur die Landbank.
Die stryd teen veediewe duur voort in Sentraal-Suid-Afrika. Noord-Kaapse polisiebeamptes het onlangs ná 'n wenk, byna 30 bokke teruggevind wat in 'n sleepwa geprop is naby Mothibistad. Polisiewoordvoerder, Nomvuyo Makoloi, sê die eienaar kon sy vee uitken, wat nogmaals die belangrikheid beklemtoon om diere te brandmerk.
Die Minister van Landbou het die invoer goedgekeur van tafel- en bevrugte eiers, sowel as pluimveevleis. Dis om te verseker voldoende voorraad is beskikbaar vir die Kersseisoen midde-in die voëlgriep-uitbraking in dele van die land. Landboudepartement-woordvoerder, Reggie Ncgobo, sê sedert 1 September is verskeie permitte uitgereik wat insluit byna 120 vir bevrugte eiers, meer as 2 400 vir pluimveevleis en 24 permitte vir tafeleiers.
Intussen word sporadiese gevalle van griep A, oftewel die H5N1–infeksie, wêreldwyd by mense aangemeld, meestal ná noue kontak met besmette voëls. Dit hou verband met die uitbreking onder voëls, maar die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê infeksie by mense is skaars soos hoendertande. Wêreldwyd in 2023 is slegs agt gevalle van H5N1 by mense aangemeld by die Wêreldgesondheidsorganisasie, ondanks groot uitbrekings onder pluimvee en wilde voëls in talle wêrelddele.
EN
Die Wes-Kaapse Landboudepartement se veeartsenykundige dienste het 'n innoverende aanlynstelsel, die Uitvoersertifikaatkantoorstelsel bekend gestel. Dit is om voldoening in Suid-Afrika se voedsel- en diereproduktebedryf te verbeter. Farmer's Weekly se Sindira Chetty sê dié stelsel vereenvoudig die uitvoerproses deur standaardvorms beskikbaar te stel wat aan die vereistes van invoerlande voldoen.