Agriculture
Landbounuus: Verdagtes laat vaar reg op borgtogaansoek in Pattinson-moordsaak─── ELSABÉ RICHARD 12:50 Mon, 14 Aug 2023
Vyf van die verdagtes in die moord op Mike Pattinson van Harrismith het vanoggend afstand gedoen van hul reg tot borg.
Die sesde verdagte is steeds in die hospitaal, terwyl die sewende borgtog van R3 000 gekry het met streng voorwaardes omdat hy nie tans met die ontvoering en moord verbind kan word nie. Die 67-jarige hoof finansiële beampte van ’n privaat skool op Harrismith se liggaam is op Maandag 24 Julie in Tseseng, Qwaqwa gekry nadat sy motor daar gevind is. Vrystaat VF Plus-leier Jan van Niekerk sê dis nie in die publiek se belang dat vermeende moordenaars borg kry, en dan verdwyn nie.
'n Boer van die distrik Ventersburg én mans wat na bewering sy plaas onwettig betree het om gruis uit te haal, moet einde Augustus in die hof voorkom – nadat die polisie sake teen albei partye geopen het. Die boer word aangekla van diefstal omdat hy glo die betreders se voertuigsleutels en selfone afgevat het terwyl hy gewag het vir die polisie. Polisiewoordvoerder, Stephan Thakeng, sê ondersoeke duur voort.
Die aanslag op plase en kleinhoewes maak dit duidelik: die swak vervolgingspersentasie is geen afskrikmiddel nie. Die VF Plus in Mpumalanga eis die plaaslike regering moet verduidelik waarom die reaksie en optrede van die polisie so traag is aangaande plaasaanvalle. Aanvalle op plase en kleinhoewes het die afgelope weke kommer én woede gesaai in landelike gemeenskappe. Die party sê luidens 'n verslag wat AfriForum uitgereik het, het geen inhegtenisnemings vir plaasmoorde in Mpumalanga in 2022 tot suksesvolle vervolging gelei nie.
Die brandgevaar-index is vandeesweek bo 75 in Noordwes. Grondeienaars word gemaan om nie brande gedurende dié tyd te maak nie.
EN
Die Minister van Landbou het die ondertekening van die gesamentlike verklaring van die 13de vergadering van BRICS-landbouministers verwelkom. Woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die verklaring lê areas van samewerking en ooreenkomste uiteen oor verskeie ingrypings tussen BRICS-lidlande oor landbou. Lidlande sluit in Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika.