Agriculture
Die belangrikheid van bewaringbewerking in landerye─── ELSABÉ RICHARD 09:14 Mon, 05 Dec 2022
Bewaringbewerking kan op die langtermyn te nat landerye en gronderosie voorkom.
Afgetrede grondbewaringstegnikus, Piet Theron, sê hy is van mening dat alle produsente bewaringbewerking toe moet pas want “die vaslegging van koolstof in die grond, eerder as om dit met konvensionele bewerking in die lug te laat gaan, is die waarde van bewaringbewerking.”
LEES OOK: Afleibane, kontoerwalle help om té nat landerye te voorkom
Theron deel dat bewaringbewerking gebaseer is op grondgesondheid en dat al die jare se konvensionele bewerking, grond van sy voedingstowwe gestroop het.
Produsente wat al vir jare hierdie tegniek toepas, gebruik aansienlik minder brandstof en bemesting, sê Theron, wat veral gedurende die huidige hoë insetkoste help.
Theron sê wanneer produsente bewaringbewerking toepas, is dit in meeste gevalle nie nodig om afleibane en kontoerwalle, wat ook help om te nat landerye te voorkom, te bou nie.
LEES OOK: Rywydtes, plantdigtheid en plantdatums van sojabone
“Die belangrikse ding by bewaringbewerking is dat ‘n produsent se [ingesteldheid] reg moet wees, en sê hy wil dit doen om oor die langtermyn die voordele daarvan te pluk.
“Jy het minder trekkers nodig, want daar is geen grondvoorbereiding wat gedoen word nie, behalwe deur ‘n gifspuit te gebruik om te keer dat onkruid nie handuit ruk nie.
“Weer eens is goeie beplanning uiters noodsaaklik aangesien dit ten minste drie tot vier jaar neem voordat bewaringbewerking gronderosie of nat toestande effektief kan hanteer.”
Die belangrikheid van ‘n kundige
Theron sê dit is nodig dat ‘n produsent ‘n kundige moet nader vir hulp met bewaringbewerking.
Kundiges in die Departement van Landbou was voorheen in meeste dorpe beskikbaar. Privaat persone wat ook hierdie diens lewer is ook baie skaars.
“Ek weet van in Noordwes twee persone wat dit doen, en in Mpumalanga een of twee. So, daar is regtig baie min mense wat dié diens vir ‘n boer kan lewer.
“In die Vrystaat, die Departement van Landbou het nog ‘n paar beamptes wat boere kan help, maar ek dink dit is ook beperk tot twee of drie [persone].”