Agriculture
Toestande kritiek in droogtegeteisterde dele van Noord-Kaap─── 07:20 Mon, 20 Jan 2025
Weens reën wat eers ná Januarie verwag word en uiterste weerpatrone wat groot dele van die land beïnvloed, lyk die toekoms vir die Karoo se landbousektor onseker.
Grondwaarde in die droogtegeteisterde Karoogebiede van die Noord-Kaap het drasties gedaal weens langdurige droogtetoestande sedert 2013. Volgens Landbou.com word grond in sekere gebiede nou teen slegs ’n paar honderd rand per hektaar verkoop.
’n Onlangse veiling toon hoe benard die situasie geraak het: ’n Plaas tussen Brandvlei en Williston is vir net R525/ha verkoop, vergeleke met R1 500/ha vyf jaar gelede. Die droë toestande het die ekonomiese waarde van grond in gebiede soos Mier, Kenhardt, Williston, Brandvlei en Loeriesfontein ingrypend beïnvloed.
Veegetalle krimp dramaties
Navorsing deur die Universiteit van Kaapstad toon dat veegetalle in die Sentraal-Karoo met meer as ’n derde gekrimp het tydens die droogte van die laat 2010’s. Hierdie data is gegrond op 44 boerderye oor 420 000 ha. Boere wat in daardie tydperk verkoop het, oorlede is of afgetree het, is nie by die syfers ingesluit nie, berig Plaasmedia.
Die droogte, wat in die Sentraal-Karoo in 2015 begin het en tot Oktober 2021 geduur het, het produsente gedwing om hul diere voltyds te voer. Volgens Agri Noord-Kaap moes 532 boere reeds hul vee deurentyd voer weens ’n gebrek aan weiding.
Weerpatrone bly ongunstig
Die huidige droogte blyk voort te duur. Reënval word volgens voorspellings eers ná Januarie verwag. Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, het aan die SAUK gesê Suid-Afrika ervaar drastiese weerkontraste. Terwyl die ooste, waaronder Gauteng en KwaZulu-Natal, swaar reënval aangeteken het, bly die weste, insluitend die Noord-Kaap, droog.
Die tropiese sikloon Dikdi, wat oor die Mosambiekkanaal beweeg, dra verder by tot droë toestande oor groot dele van die land. Hierdie patroon kan tot einde Januarie voortduur terwyl hoër temperature oor die Wes- en Noord-Kaap verwag word.
Roep om hulp
Agri Noord-Kaap bevestig dat ondergemiddelde reënval sedert 2022 boere in groot dele van die provinsie in ’n moeilike posisie plaas. Die organisasie doen ’n beroep op die publiek om bystand te verleen aan diegene wat daaronder gebuk gaan.
Skenkings kan gemaak word deur Agri Noord-Kaap te nader by 053 832 9595 of per e-pos aan marian@agrink.co.za. Die bankbesonderhede is: Agri Northern Cape Foundation NPC, Absa, rekeningnommer 4099194690 en takkode 632005.
OFM Agri cg/mc