Agriculture
Afleibane, kontoerwalle help om té nat landerye te voorkom─── ELSABÉ RICHARD 08:02 Mon, 28 Nov 2022
Suid-Afrika het die afgelope tyd baie reën ontvang en sommige produsente het reeds versuipskade opgedoen.
Landbouers in die Oos-Vrystaat het gerapporteer dat van hulle nie klaar kon plant nie, en ander kon ook nie in hulle landerye inkom nie, of in sommige gevalle, kon hulle nie hulle plase verlaat nie.
LEES OOK: Baie reën in Oos-Vrystaat wek kommer
Maar te nat landerye kán voorkom word. Dit is volgens afgetrede grondbewaringstegnikus, Piet Theron.
Theron, wat reeds meer as 40 jaar ondervinding in grondbewaring het, deel dat uitermatige nat lande ook gronderosie tot gevolg kan hê, en dus raai hy produsente aan om nóú op te tree om skade op die lang termyn te voorkom.
“Alfleibane en kontoerwalle is uiters belangrik om nat toestande te voorkom, aangesien dit gebasseer is op die beginsel van om vloedwater so doeltreffend as moontlik uit lande te dreineer.
LEES OOK: ‘Waterstelsels help in tye van vloed en droogte’
“ ‘n Goeie kontoer-stelsel kan water vinnig en effektief uit die lande dreineer sonder dat daar erosie plaasvind, en gevolglik kan dit nat toestande beperk,” sê Theron.
Wenke vir die maak van afleibane en kontoerwalle
- Goeie beplanning deur 'n kundige. Afleibane en kontoerwalle moet so beplan word dat daar goeie paaie is vir toegang en die uitry van gewasse. Theron raai produsente aan om ook van nuwe tegnologie gebruik te maak, wat kan help om parallele kontoerwalle uit te meet.
- Afleibane en kontoerwalle moet vroegtydig gemaak word. “Moet nie wag dat lande spoel of oormatige reën voorkom nie, dan is dit bietjie te laat om werk daarvan te maak,” sê Theron.
- Dit is belangrik dat kontoerwalle op standaard en in stand gehou word.
- Afleibane moet goeie grasbedekking hê. Die gras moet gereeld kort gesny word.
- Inlate by waterbane moet behoorlik oop wees – ten minste 2 meter wyd.
Indien produsente van kontrakteurs gebruik sou maak om die kontoerwalle en afleibane te maak beveel Theron aan dat daar vooraf seker gemaak moet word van die persoon se gehalte werk voordat ‘n besluit gemaak word.
Bewaringbewerking
Nóg ‘n goeie opsie om te nat landerye te voorkom is bewaringbewerking, omdat dit in meeste gevalle dan nie nodig sal wees om afleibane en kontoerwalle te bou nie.
“Weer eens is goeie beplanning uiters noodsaaklik aangesien dit ten minste drie tot vier jaar neem voordat bewaringbewerking erosie of nat toestande effektief kan hanteer.”
Plantrigtings
“Produsente in die Viljoenskroon- en Bothaville-omgewings, maar ook in vele ander gebiede, kan getuig dat plantrigtings wat volgens ‘n deurlopende gradient uitgemeet is, oormatige afloopwater ook baie effektief kan dreineer, sonder die oprigting van kontoerwalle.
“Goed-geplaasde afleibane is egter van kardinale belang sodat die afloopwater vanaf die plantrye in die afleibane ingelei kan word, in welke geval die afleibane dan die afloopwater veilig uit die lande uit dreineer,” deel Theron verder.