On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Sonneblomoeste lyk goed ten spyte van baie reën

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 26 Apr 2022

Sonneblomoeste lyk goed ten spyte van baie reën | News Article
FOTO: Sabrina Dean.

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sê die huidige seisoen se skatting vir sonneblomoeste staan op net minder as 960 000 ton.

Volgens Corné Louw, Hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, is hierdie seisoen se sonneblomoesskatting hoër as die vorige seisoen s’n, en kan dit toegeskryf word aan ‘n toename in sonneblomaanplantings. 

Sien onderstaande PODCAST

Die huidige sonneblomaanplantings word op 670 000 hektaar deur die NOK geskat. Hierdie syfer is 40% hoër as verlede jaar se aanplantings van 478 000 hektaar.

Die nat weer het daartoe gelei dat produsente nie mielies kon plant nie en hulle het gevolglik sonneblomme geplant. Louw voeg egter by dat die ontkieming van sonneblomsade negatief geraak is omdat hulle in nat lande geplant is.

Oorlog in die Oekraïne

Suid-Afrika is netto-invoerders van plantaardige olie, wat sonneblomolie insluit, sowel as proteïne soos sonneblomoliekoek. Die goeie oes wat in Suid-Afrika aangeteken is, maak die land tot ‘n mate minder afhanklik van Rusland en die Oekraïne.

Die oorlog in die laasgenoemde lande het ook ‘n impak op plaaslike sonneblompryse. Die plaaslike sonneblomprys het met 10% gestyg sedert die begin van die oorlog in die Oekraïne in Februarie vanjaar.

LEES OOK: Landbou-ekonoom gesels oor huidige sonneblomoliepryse

Louw verduidelik dat insetpryse skerper toegeneem het as markpryse. Rusland en die Oekraïne is saam van die grootste sonneblomsaadprodusente in die wêreld en van die grootste sonneblomolie-uitvoerders in die wêreld.

“Insetpryse soos kunsmis en brandstof het ook sterk toegeneem, so uit ‘n produsent se oogpunt – ‘n produsent kan nie altyd die prys van kunsmis en brandstof deurgee aan die verbruiker nie, hy moet dit in ‘n stadium absorbeer in sy produksiesisteem - plaas dit ook die winsgewendheid van sonneblomproduksie onder druk.”


Sonneblomoliepryse

OFM-nuus het voorheen berig dat een van die faktore wat bydra tot die prys van sonneblomolie die oorlog in die Oekraïne is weens Rusland wat daardie land ingeval het.

LEES OOK: Hoe die Rusland-Oekraïne-konflik SA boere kan raak

Heleen Viljoen, ‘n landbou-ekonoom by Graan SA, verduidelik dat Suid-Afrika afhanklik is van sonneblomolie-invoer, en met die oorlog wat tans aan die gang is, word invoer negatief beïnvloed. Die Swartsee – vanwaar Suid-Afrika meeste van dié produkte invoer – se hawens funksioneer nie op volle kapasiteit nie. Dit is ‘n faktor wat kan bydra tot plaaslike sonneblomoliepryse wat die hoogte inskiet.

Volgens Viljoen is die verhoging in sonneblomoliepryse nie as gevolg van die verhoging in landboukommoditeitpryse nie - dit is as gevolg van waardeketting-ontwrigtings.

Daar ontstaan ook ‘n tendens in die mark dat die winsmarges van ‘n boer ook nou sal opgaan omdat die sonneblomprys opgaan, maar dit is egter nie waar nie, sê Viljoen.



OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.