On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Voor-opkomsstrategie vir koringoes

───   08:05 Tue, 08 Apr 2025

Voor-opkomsstrategie vir koringoes | News Article
Foto: Getty Images

Met die nuwe kleingraanseisoen wat vinnig nader kom, is produsente reeds hard aan die werk om hul grond voor te berei vir die uitdagings wat voorlê.

Een van die grootste struikelblokke in die pad na ’n gesonde oes bly egter onkruid – en veral raaigras (Lolium rigidum), ’n geharde indringer wat landbouers jaar ná jaar kopseer gee.

Die sleutel tot suksesvolle onkruidbeheer lê nie in een enkele metode nie, maar in ’n geïntegreerde benadering wat meganiese, chemiese en tegnologiese oplossings kombineer. Vir produsente wat op minimum bewerking staatmaak, is die gebruik van doeltreffende voor-opkomsonkruiddoders van kardinale belang, veral omdat konvensionele saadbedvoorbereiding dikwels nie deel van hul praktyk is nie.

Volgens Andries Duvenhage van Syngenta Suid-Afrika is daar hoop vir produsente wat met raaigras worstel. Die maatskappy bied ’n beproefde kombinasie van onkruiddoders wat saam ’n kragtige front vorm teen gras- én breëblaaronkruid. Hierdie produkte is ontwerp vir gebruik vóór onkruid opkom, wat hulle uiters waardevol maak om die vroeë kompetisie tussen gewas en onkruid te beperk.

“Wanneer jy hul effektiwiteit kombineer met die regte toedieningstegniek, kry jy ’n baie sterker verdediging teen indringers soos raaigras.”

Raaigras (Lolium rigidum). Foto: Harry Rose, South West Rocks

Maar geen onkruiddoder, hoe goed ook al, is effektief sonder die regte toedieningspraktyk nie. In bewaringsbewerkingstelsels – waar kluite en oorblywende organiese materiaal algemeen voorkom – kan hierdie fisiese hindernisse die verspreiding van die chemiese middel belemmer. Hier maak spuittegnologie die verskil: gekantelde spuitstukke het al bewys dat hulle tot 10% beter dekking en gevolglik beter onkruidbeheer bied.

Nog ’n toedieningsuitdaging is druppels wat deur wind weggevoer word voor hulle die grond bereik. Hier is spuitstukke met ’n 90% minder wegdrywing-gradering ’n praktiese oplossing. Dié spuitstukke lewer groter druppels, wat minder geneig is om te verdamp of weg te dryf, en verbeter dus die akkuraatheid van toediening aansienlik.

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.