On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

BTW-nulklaring vir sekere rooivleisprodukte

───   07:36 Mon, 07 Apr 2025

BTW-nulklaring vir sekere rooivleisprodukte | News Article
Foto: Getty Images

Met die aankondiging van ’n nulkoers op belasting op toegevoegde waarde (BTW) vir sekere rooivleis-afvalprodukte, het die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf ’n betekenisvolle oorwinning vir die verbruiker behaal.

In ’n tyd waar armoede, werkloosheid en swak lewensomstandighede die daaglikse werklikheid vir miljoene Suid-Afrikaners is, speel bekostigbare voedsel ’n sleutelrol in oorlewing. Die lys van noodsaaklike voedselsoorte wat teen ’n nulkoers op BTW belas word, is dus van kritieke belang.

Tydens die nasionale begrotingsrede het die minister van finansies aangekondig die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde van 1991 sal gewysig word om die BTW-nulkoerslys uit te brei. Hierdie wysiging tree op 1 Mei 2025 in werking. Rooivleis-afvalprodukte soos pens, pote, lewer, longe, hart en niere sal voortaan onder hierdie kategorie val.

Hierdie mylpaal is die resultaat van hegte samewerking tussen verskeie belanghebbendes in die rooivleiswaardeketting. Onder die instellings wat die gesamentlike aansoek aan die regering gerig het, tel die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die Suid-Afrikaanse Visverwerkingsvereniging, die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie, Rooivleisbedryfsdienste en die Rooivleis Abattoirvereniging.

Volgens die RPO is hierdie afvalprodukte bekostigbare en voedsame proteïenbronne, veral vir lae-inkomsteverbruikers. “Die insluiting van hierdie produkte op die nulkoerslys bring verligting aan verbruikers wat reeds onder geweldige ekonomiese druk verkeer,” sê James Faber, voorsitter van die Nasionale RPO.

Die aankondiging volg nadat die hoenderbedryf vroeër aansoek gedoen het om sekere individueel bevrore hoenderporsies van BTW vry te stel. Die RPO het egter in hul reaksie daarop gewys dat hierdie produkte as “luukshede” beskou behoort te word, deels op grond van hul vraagelastisiteit en die werklike koste ná uitsluiting van bene en pekelwater.

Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO, het daarop gewys dat individueel bevrore hoender slegs op die oppervlak goedkoop lyk, maar in werklikheid dikwels duurder is as ander proteïenbronne wanneer dit vergelyk word op basis van werklike vleisgehalte.


“Hierdie is baie goeie nuus vir verbruikers,” sê Faber. “Veral omdat die produkte wat nou ingesluit word, wyd gebruik word oor ’n breë spektrum van die samelewing.”

Met stygende voedselpryse, hoë rentekoerse en aanhoudende ekonomiese druk, verwelkom verbruikers enige verligting. Alhoewel die verligting relatief klein is, verwag die bedryf dat dit ’n tasbare verskil aan huishoudelike begrotings kan maak.

“Ons sien dit as ’n stap in die regte rigting. Nou moet ons aanhou werk om rooivleisprodukte verder bekostigbaar en toeganklik te maak vir al ons mense.”

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.