On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

VSA-tariewe: Landboubedryf moet proaktief optree – Agbiz

───   08:23 Mon, 07 Apr 2025

VSA-tariewe: Landboubedryf moet proaktief optree – Agbiz  | News Article
Die VSA het ongekende invoertariewe aangekondig. Foto: X

Sedert die aankondiging van ongekende invoertariewe deur die VSA teenoor verskeie lande, heers daar steeds onsekerheid oor hoe hierdie tariewe prakties toegepas sal word.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, meen tot op hede het die VSA nie voldoende amptelike leiding gegee oor die spesifieke tariefvlakke per produk nie, wat dit vir Suid-Afrika uiters moeilik maak om produktiewe dialoog aan te knoop.

Die Suid-Afrikaanse owerhede het egter hul voorneme uitgespreek om sinvolle gesprekke met die VSA te voer. In ’n gesamentlike verklaring op 4 April 2025 het die ministers van internasionale betrekkinge en samewerking en handel, nywerheid en mededinging gesê: “Suid-Afrika sal werk om geleenthede te verseker in die konteks van die vinnige onttrekking van gunstige reëlings wat ons uitvoer voorkeurtoegang tot die Verenigde State van Amerika gee. Dit kan behels die verkryging van bykomende vrystellings en gunstige kwotareëlings.”

Sihlobo glo veral die landbousektor kan nou ’n konstruktiewe rol speel. “Belanghebbendes word aangemoedig om voorlopige assesserings te doen van die impak wat ’n tariefstyging tot 31% op uitvoer van produkte soos sitrus, druiwe, wyn en neute kan hê – nie net op die marktoegang nie, maar ook op indiensneming in produksiegebiede.” Suid-Afrika se mededingers in hierdie sektore in die VSA geniet tans laer tariewe van sowat 10%, wat plaaslike uitvoerders ernstig benadeel.

Hy meen verder indien Suid-Afrika daarin slaag om oor ’n nuwe kwotastelsel of gedeeltelike tariefvrystellings te onderhandel, sal die bedryf ook moet bepaal watter volumes realisties onder so ’n stelsel uitgevoer kan word. “Daar moet gekyk word na watter Amerikaanse landbouprodukte Suid-Afrika moontlik kan akkommodeer as deel van wedersydse toegewings – soos in die geval van die huidige tariefvrye kwota van net meer as 70 000 ton vir VSA-hoender, waarvan slegs 60% benut word weens gehaltekwessies.”

Die behoefte om Suid-Afrika se uitvoermarkte dringend te diversifiseer is ook onderstreep. Die ministers het aangedui: “Pogings sal verskerp om uitvoerbestemmings te diversifiseer, met fokus op markte in Afrika, Asië, Europa, die Midde-Ooste en die Amerikas.”

“Hoewel sodanige onderhandelinge en marktoegangstappe tyd verg, veral in die landbou waar wetenskaplike regulatoriese prosesse betrokke is, word daar op die mediumtermyn betekenisvolle voordele gewag. Intussen is dit noodsaaklik dat besighede probeer om groter volumes na ander streke uit te voer,” sê Sihlobo.

Suid-Afrika sal egter nie net op diversifikasie kan steun nie. “Die regering en bedrywe moet met groter dringendheid strategiese vennootskappe smee – veral met dinamiese markte in die Golfstreek en Asië – en ’n meer aktiewe houding inneem jeens wederkerige vryhandelsooreenkomste. Hierdie benadering is noodsaaklike ‘versekering’ in ’n tyd waar multilaterale handelstelsels broos is.”

Data-gedrewe navorsing bly van kardinale belang. Georganiseerde landbou en die sakegemeenskap sal gesamentlik nuwe prioriteite vir internasionale handel moet definieer en dit doeltreffend kommunikeer. “Die tyd om te handel is nou – vinnige en strategiese optrede is noodsaaklik om die ekonomiese belange van Suid-Afrika se landbou- en uitvoersektor te beskerm.”

OFM Agri/Verklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.