On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Suksesvolle aartappelmotprojek brei uit na noorde

───   05:00 Wed, 09 Apr 2025

Suksesvolle aartappelmotprojek brei uit na noorde  | News Article
Foto: Getty Images

’n Langtermynprojek om die berugte aartappelmot (Phthorimaea operculella) in die Sandveld te monitor en beheer, het só suksesvol geblyk dat dit nou uitgebrei word na die noorde van Suid-Afrika

Die projek, wat al sedert 2016 aan die gang is, het ’n merkwaardige verskil gemaak in hoe produsente hierdie uitdagende plaag bestuur.

Die aartappelmot kan groot ekonomiese verliese veroorsaak vir produsente, maar Sandveld-boere het ’n nuwe bladsy omgeslaan danksy die moniteringsprojek wat deur InteliGro en Syngenta geloods is. Deur slim tegnologie, vennootskappe en data-gedrewe bestuur het hulle daarin geslaag om die motpopulasie doeltreffend te beheer – en boonop hul plaagdodergebruik te verminder.

Die projek het begin met die ontplooiing van spesie-spesifieke feromoonlokvalle wat manlike motte lok en vang. Hierdie vangdata verskaf waardevolle vroeë waarskuwings aan produsente, sodat hulle betyds kan reageer.

“Vernuf, data en deurdagte bestuur van die motbevolking het oor die lang termyn merkwaardige resultate vir die boere in die Sandveld gebring,” sê Stefan Steenekamp, tegniese bemarkingspesialis by InteliGro.

Die vangste word weekliks aangeteken op elektroniese platforms soos Cropwise en CropWatch, wat dit moontlik maak om saam met fisiese veldwaarnemings en weerdata, akkurate plaagvoorspellings te maak. Hierdie insigte help met die beplanning van meer doelgerigte en koste-effektiewe plaagbeheer.

Aartappelmot (Phthorimaea operculella). Foto: Caroline Harding, MAF

Johan Stephan van Stephan & Seun Boerdery, ’n Sandveld-familieboerdery, sê die projek het hul besluite op plaasvlak ingrypend verbeter. “InteliGro se gereelde en noukeurige monitering help ons om ons plaagdoders só te skeduleer dat dit werklik effektief is. Dit spaar geld, verminder die hoeveelheid spuite wat ons toedien, en voorkom skade aan die oes.”

Steenekamp beklemtoon dat InteliGro ’n geïntegreerde plaagbestuurbenadering volg. Dit beteken ’n slim kombinasie van chemiese en biologiese oplossings saam met aangepaste verbouingspraktyke. Dié volhoubare model help boere om nie net produktief te wees nie, maar ook om hul omgewingsvoetspoor te verklein.

Met klimaatsverandering en die uitfasering van sekere plaagdoders (veral dié wat as karsinogenies en reproduktief ontwrigtend geklassifiseer word), is innovering en samewerking belangriker as ooit.

“Suid-Afrika is in ’n unieke posisie om die hele jaar deur vars aartappels te produseer. Maar om dit volhoubaar te doen, moet ons vooruit dink oor klimaat, plae en beskikbare hulpmiddels,” sê Steenekamp.

Die sukses in die Sandveld het nou gelei tot ’n projek wat in die Verre Noorde van Limpopo begin is. Hier werk InteliGro saam met Aartappels Suid-Afrika (ASA) en Metos SA om weerdata en lokvalvangste te integreer in spuitbesluite vir plaaslike produsente. 

“Ons agt jaar se ondervinding help ons om nou ons kennis en stelsels met produsente elders te deel. Ons beoog selfs meer akkurate aanbevelings in die toekoms deur die gebruik van historiese data én weerinligting.”

Boere wat belangstel om betrokke te raak of meer wil weet, kan Steenekamp kontak by stefans@inteligro.co.za.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.