Agriculture
Landbounuus-podcast: Noordwes-regering vergader met Clover oor sluiting van kaasfabriek─── ELSABÉ RICHARD 14:10 Wed, 09 Jun 2021
Die premier van Noordwes, Job Mokgoro, het 'n span - onder leiding van LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, Desbo Mohono - ontplooi om met die bestuur van die suiwelmaatskappy, Clover, te vergader.
Dit in 'n poging om die verskuiwing van die maatskappy na Durban te stop en werksgeleenthede te red. Clover het gister (Dinsdag) aangekondig dat hy van plan is om sy aanleg in Lichtenburg, onder die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, te sluit vanwëe onderbrekings in hulle bedrywighede weens swak water- en elektrisiteitstoevoer. Die maatskappy het ook aangedui dat die swak padinfrastruktuur hulle bedryfskoste geweldig verhoog het en dat dit hulle verskaffers geraak het. Die kantoor van die premier sê verder in 'n verklaring dat Clover ongeveer 380 permanente werknemers en ongeveer 40 tydelike werknemers in diens het. Clover verwerk daagliks ongeveer 350 000 liter melk. Ongeveer 250 000 liter melk is afkomstig van KwaZulu-Natal terwyl ongeveer 100 000 liter melk van Noordwes afkomstig is.
Intussen sal melkboere, wat melk aan die suiwelgroep Clover se kaasfabriek in Lichtenburg in Noordwes voorsien, nog tot die eerste helfte van volgende jaar melk aan die fabriek verskaf vir die vervaardiging van fetakaas. Dit is volgens Johan Strydom, 'n melkboer in die provinsie. Strydom sê dat melkboere wel in kennis gestel is dat 'n groot deel van die kaasfabriek in Oktober vanjaar sal sluit. Clover gaan sy produksie-aktiwiteite na Queensburgh naby Durban skuif, waar die maatskappy reeds 'n aanleg het. Die munisipaliteit sal na verwagting nog 'n verklaring hieroor uitreik.
EN
Werknemers van Clover by sy Lichtenburg-kaasfabriek in Noordwes gesê hulle is hartseer oor die besluit van die maatskappy om sy kaasproduksie in die omgewing te staak. Clover het die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit die skuld gegee vir die versuim om infrastruktuur te onderhou, en gesê jarelange ontwrigting van water en elektrisiteit het tot groot verliese gelei. Werknemers, wat anoniem wil bly, sê die sluiting van die fabriek sal ernstige ekonomiese gevolge vir hulle en hul gesinne, asook die gemeenskap, inhou. Hulle sê die maatskappy het hulle egter die geleentheid gegee om te verhuis na Queensburgh in Durban in KwaZulu-Natal - waarheen Clover sy kaasproduksie skuif. Meer as 330 werkers kan hul werk verloor.
OFM-nuus