Agriculture
Landbounuus-podcast: #Eloise dalk teen Dinsdag uit SA─── ELSABÉ RICHARD 14:34 Mon, 25 Jan 2021
Sikloon Eloise, wat intussen afgegradeer is na 'n tropiese storm, mag Suid-Afrika dalk teen Dinsdag verlaat.
Johan van der Berg, onafhanklike weerkundige, sê vooruitsigte toon dat daar 'n volgende sikloon kan ontwikkel. Van den Berg sê egter voor hierdie sikloon vorm is daar 'n baie sterk laagdruk wat oor die noordelike dele van Botswana en Namibië begin ontwikkel en vog na die binneland sal instoot. Intussen voeg Van den Berg by dit lyk asof die noordoostelike gedeeltes sowat 80mm tot 100mm reën sal ontvang vir die volgende paar dae.
Intussen waarsku die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, boere - veral rondom Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal - teen sikloon Eloise, wat nou afgegradeer is na 'n tropiese storm. Didiza sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) het aangedui dat die storm reeds in die noordoostelike dele van die land is, en na verwagting die bogenoemde provinsies sal beïnvloed. Die departement raai boere aan om besproeiingstoerusting uit vloedvlaktes te verwyder om sodoende skade deur oorstromings te voorkom; om nie in vloedvlaktes en nader aan rivierbanke te plant nie; en om ander bates, sowel as vee, na hoër grond te skuif. Daarmee saam moedig Didiza ook boere aan om hulle vee in te ent teen siektes soos slenkdalkoors wat gewoonlik met voortdurende reënval gepaard gaan.
EN
FARMOVS, 'n kliniese navorsingsonderneming van die Universiteit van die Vrystaat (UV), saam met verskeie mediese en wetenskaplike kundiges aan die universiteit, is tans besig om 'n kliniese proefprotokol op te stel om die doeltreffendheid van ivermektien vir die behandeling van Covid-19 te bepaal. Lacea Loader, woordvoerder vir die universiteit, sê in 'n verklaring die voorbereiding van die proefprotokol dien as bewys dat die universiteit en FARMOVS daartoe verbind is om by te dra tot die ontwikkeling van behandelings en behandelingstrategieë om die Covid-19-pandemie te beveg. OFM-nuus se Elsabé Richard sê Loader deel verder dat indien die kliniese proefprotokol deur die betrokke nasionale reguleringsowerheid goedgekeur word, sal die UV die eerste universiteit in Suid-Afrika wees om aan só 'n studie deel te neem.
OFM-nuus