Agriculture
RPO gee raad aan boere in droogtegebiede─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:23 Fri, 08 Jan 2016
Bloemfontein - Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat raai boere, wat swaar gebuk gaan onder die droogte, aan om hul kernkuddes te behou.
Voorsitter, Neels de Villiers, sê boere moet nou probeer om nie van hul kernkuddes ontslae te raak nie, maar eerder hul surpluskuddes te verkoop, want daar kan later ‘n tekort aan aanteeldiere wees. Hy sê dit gaan sleg met boere wat nie genoeg veevoer beskikbaaar het nie.
Volgens hom probeer die RPO help met veevoerskenkings en geldelike bydraes.
Dié organisasie het ook by die vrywilliger-organisasie, Boere in Nood, aangesluit wat reeds sowat R700 000 ingesamel het om veevoer oor die land heen aan boere in die knellende droogtegebiede te versprei.
Hy sê boere moet vasbyt.
“Hou moed, ons glo ‘n uitkoms is naby. Probeer ontslae raak van surplusdiere wat nie in produksie is nie.” Hy glo goeie reën gaan verligting bring.
De Villiers sê die prys van rooivleis is verbasend hoog, al is daar ‘n ooraanbod in die mark.
OFM-nuus