National
Riah Phiyega moet in hof sê oor Roos─── 08:19 Sat, 17 Jan 2015
Johannesburg - Die arbeidshof in Johannesburg het Vrydag beveel dat die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, en die minister van polisie, Nathi Nhleko, eersdaags sélf in die hof moet getuig in verband met Solidariteit se hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die aanstelling van Kobus Roos.
Die arbeidshof het verlede jaar beveel dat Phiyega moet toesien dat Roos in 'n soortgelyke pos aangestel word as die pos wat hy voorheen beklee het. Roos was hoof van die interne-ouditafdeling van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid voordat hy eensydig deur Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na 'n ander afdeling toe verplaas is.
Die hof het verder beveel dat, indien daar nie in dié eenheid ’n pos vir Roos beskikbaar is nie, hy as alternatief 'n soortgelyke pos in die SAPD aangebied moet word. Roos is egter steeds nie in 'n soortgelyke pos as sy vorige pos aangestel nie.
“Die nasionale kommissaris sal kragtens vandag se uitspraak in 'n ope hof moet verduidelik waarom sy Roos nie binne die misdaadintelligensie-eenheid wil aanstel nie terwyl 'n vakante pos vir hom bestaan. Dit lyk asof die polisie 'n verskuilde agenda daarmee het om Roos se aanstelling in dié eenheid te weier,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê.
Verklaring