On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

National

4 kinders van dieselfde skool in Gauteng neem hul eie lewe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:48 Wed, 08 May 2024

4 kinders van dieselfde skool in Gauteng neem hul eie lewe | News Article
Foto Google

“ Die departement vra leerders moet gebruik maak van ondersteunende strukture en hulpmiddels indien hulle uitdagings beleef en hulp benodig.

Ná die selfdood van vier leerders van dieselfde skool binne twee weke, doen die DA ’n beroep op die LUR vir onderwys vir ’n onmiddellike ondersoek na die redes vir hul dood. 

Die Gautengse Departement van Onderwys se besluit om pleidooie vir ’n hersiening van sy skoolveiligheidstrategie te ignoreer, het gelei tot tragiese voorvalle en die onnodige dood van leerders, sê Sergio Isa Dos Santos, Gautengse DA-wetgewerlid en woordvoerder oor Onderwys.

Die Eqinisweni Secondary School in Ivory Park, Midrand, is in rou gedompel nadat vier leerders tussen 26 April en 5 Mei na bewering hul eie lewe geneem het. Hulle het glo almal gif gedrink.

‘Hy is later dieselfde dag dood’

Op 26 April het ’n gr. 10-meisie gif by haar ouerhuis gedrink en is met haar aankoms by die klinkiek dood verklaar. Donderdag (2/5) is ’n gr. 11-meisie dood by haar ouerhuis gekry nadat sy ook vermoedelik gif gedrink het. ’n Dag later is ’n gr.-11 seun in die hospitaal opgeneem nadat hy ook gif gedrink het. Hy is later dieselfde dag dood. Op Sondag (5/5) is ’n gr. 12-meisie in die hospitaal dood nadat sy ook gif gedrink het. 

Matome Chiloane, LUR vir Onderwys,  sê die gebeure is hartverskeurend. Hy het sy meegevoel met die leerders se familie en vriende betuig. Hy sê spanne is gestuur na die skool om berading aan die leerders te bied. Die departement vra leerders moet gebruik maak van ondersteunende strukture en hulpmiddels indien hulle uitdagings beleef en hulp benodig.

‘Dit wek ernstige kommer oor die veiligheid van leerders’

“Die DA doen al té lank ’n beroep op die departement om die skoolveiligheidstrategie te hersien wat misluk op grond van die talle tragiese voorvalle wat sedert die begin van die skooljaar plaasgevind het. Dit wek ernstige kommer oor die veiligheid van leerders en onderwysers in die provinsie,” sê Dos Santos.

In kommerwekkende gebeure wat vroeg vanjaar landwyd deur die DA uitgelig is, het verskeie tragiese voorvalle in verskillende skole plaasgevind. Dit sluit in die beweerde verdrinking op 20 Januarie van ’n gr. 7-leerder op ’n uitstappie van die Laerskool Queenswood, die dood van ’n gr. 6-leerling van die Modiselle Primary School in Ga-Rankuwa nadat hy op 1 Februarie van ’n bewegende skoolbus geval het, en die dood van ’n gr. 1-leerder van die Mandlethu Primary School in Tsakane op 6 Februarie nadat hy beskuitjies van ’n spazawinkel geëet het.

 ’n Gr. 8-leerling van die Oakdale Secondary School in Ennerdale, Johannesburg, het op 7 Februarie gesterf ná ’n mesaanval tydens ’n bakleiery met ’n gr. 10-leerling. Nog voorvalle sluit in ’n 13-jarige leerder wat ’n skoolhoof by die Primrose Primary School  op 16 Februarie geskiet het.

Childline se tolvrye nommer kan 24 uur per dag gebel word. Foto: Childline

Daar was ook ’n skietery buite die Primrose High School op 9 April wat paniek onder leerlinge en onderwysers veroorsaak het, en die onlangse ontdekking van ’n onderwyseres van die Thuto Lore Secondary School in Sharpeville se liggaam naby haar huis.

Die DA dring daarop aan dat Chiloane, Kedibone Diale Tlabela, LUR vir Paaie en Vervoer, en Faith Mazibuko, LUR vir Gemeenskapsveiligheid, saam met die skoolbeheerliggame en gemeenskappe werk om ’n gekoördineerde ingrypingsbenadering te ontwikkel om hierdie voorvalle te verhoed.

Kinders want hulp benodig kan Childline se tolvrye nommer 116 bel of Sadag by 0800 567 567 of 0800 456 789.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.