On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

National

Ontvoerde vrou van Kaapstad gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:33 Thu, 26 Sep 2024

Ontvoerde vrou van Kaapstad gevind | News Article
Alize van der Merwe. Foto: Facebook

“Ek kan ook nie bevestig of ’n losprys betaal is nie.”

Die vrou van Kaapstad wat Vrydag (20/9) in die Oos-Kaap ontvoer is, is vrygelaat.

Alize van der Merwe (39) is Donderdag (26/9) net ná 12:00 naby die Sulenkama-polisiekantoor, sowat 30 km van Qumbu, afgelaai het ao. Ndiphiwe Mhlakuvana, Oos-Kaapse Valke-woordvoerder, aan OFM Nuus bevestig.

Van der Merwe is saam met ’n ander vrou (34) in die voormalige Transkei vrygelaat, hoewel besonderhede oor dié vrou onbekend is.

‘Van der Merwe is ontvoer terwyl sy op pad was na die Umngazi-vakansieoord’

Volgens Mhlakuvana is albei vroue in die hospitaal opgeneem. “Ongelukkig kan ek niks meer oor die vrylating bekend maak nie. Ek kan ook nie bevestig of ’n losprys betaal is nie.”

Die private ondersoeker Mike Bolhuis het vroeër aan OFM Nuus gesê Van der Merwe is ontvoer terwyl sy op pad was na die Umngazi-vakansieoord naby Port St. Johns, sowat 320 km noordoos van Oos-Londen.

Die Toyota Fortuner waarin Alize van der Merwe gereis het. Foto verskaf

Van der Merwe, ’n finansiële bestuurder, het vroeër die dag uit Kaapstad op die Koning Phalo-lughawe in Oos-Londen geland en ’n Toyota Fortuner gehuur. Haar huurvoertuig is naby Port St. Johns gevind met oop deure en die ruitveërs steeds aan.

Sover bekend, is niks uit die voertuig gesteel nie.

Die laaste kommunikasie met haar geliefdes was omstreeks 11:30. Om 15:13 het iemand gebel om te sê sy is ontvoer en ’n losprys word geëis.

‘Die Valke is bekommerd oor die toename in ontvoerings in die Oos-Kaap’

Bolhuis sê geen bykomende inligting is beskikbaar nie en vra respek vir Van der Merwe se familie in hierdie moeilike tyd.

Mhlakuvana sê die Valke is bekommerd oor die toename in ontvoerings in die Oos-Kaap.

Volgens die misdaadsyfers vir die eerste kwartaal is 135 ontvoerings vir ’n losprys in dié tydperk landwyd aangemeld, waarvan sewe in die Oos-Kaap was.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.