On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

National

Register van seksoortreders binnekort aan publiek bekend

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:48 Thu, 06 Feb 2025

Register van seksoortreders binnekort aan publiek bekend | News Article
Foto: Hester Law Group

Suid-Afrikaners sal binnekort toegang kan kry tot die nasionale register van seksoortreders (NRSO) nadat dit aan die lig gekom het dat 16 000 van dié oortreders onderwysers in Suid-Afrika is met ’n misdaadgeskiedenis.

Die register sal na verwagting einde vandeesmaand beskikbaar wees, het Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, op ’n geleentheid van die Kgalema Motlanthe-stigting gesê.

Nadere besonderhede, insluitend die spesifieke plekke waar die publiek toegang daartoe kan kry, sal later bekend gemaak word, bevestig Kubayi.

Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society, is bly oor die besluit. Hulle is een van organisasies wat in Desember die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling gevra het om die register aan die publiek beskikbaar te maak, veral in die lig van die kommerwekkende feit dat 16 000 onderwysers met vorige oortredings wat in skole werk. 

Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling. Foto: The Citizen

Du Preez sê hulle was teleurgesteld, hoewel nie geskok nie, toe ’n onlangse studie deur die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame wys 16 097 onderwysers het ’n misdaadgeskiedenis, waaronder oortredings soos verkragting, moord, aanranding, diefstal, roof, bedrog, dwelmverwante misdade, huisbraak en ernstige oortredings van die verkeersreëls.

“In Suid-Afrika word die NRSO nie openbaar gemaak nie. Ouers het geen manier om die agtergrond na te gaan van diegene met wie hul kinders se veiligheid toevertrou word nie.

“Action Society eis dat die lys seksuele oortreders bekendgemaak word, aangesien privaatheidswette nie die beskuldigdes van seksuele misdade behoort te beskerm nie.”

Meer as 16 000 onderwysers het glo kriminele oortredings. Foto: iStock

Sy sê dit is skokkend dat die land seksuele oortreders en verkragters het wat kinders onderrig. 

“Hierdie mense word vertrou nie net om op te voed nie, maar ook om ons kinders te beskerm, en nou hou selfs hierdie instelling ’n risiko vir hul veiligheid in.

“Dit kan ongemaklik wees, maar ouers móét gesprekke met hul kinders hê oor verskillende vorme van seksuele misbruik. Rapporteer altyd onvanpaste gedrag,” voeg Du Preez by.

‘Hierdie oortreders verdien nie om beskerm te word nie’

Ouers moet daagliks gesagsfigure met hul kinders vertrou. Action Society is bewus van ’n tragiese geval waar ’n vierjarige verkrag is deur die mede-eienaar van haar kleuterskool, wat haar elke dag skool toe en huis toe vervoer het, terwyl ’n tiener in ’n ander voorval deur haar pastoor verkrag is. 

In twee van die opspraakwekkendste gevalle is kleuters uit parke ontvoer terwyl hulle gespeel het en ’n dag later wreed vermoor aangetref.

“Om die register van seksuele oortreders openbaar te maak sal ’n groot stap in die regte rigting wees. Hierdie oortreders verdien nie om beskerm te word nie,” sê Du Preez.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.