On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Laurika
Listen Live Streams

National

Bekende SA-akteur in Knysna aangeval

───   06:27 Tue, 24 Jun 2014

Bekende SA-akteur in Knysna aangeval | News Article
Knysna - Die bekende Suid-Afrikaanse akteur, Terence Bridgett, wat al rolle in Sewende Laan, Binnelanders en Isidingo en vertolk het, is vroeg Maandagoggend by 'n huis in Knysna in die Wes-Kaap aangeval en beroof.

Bridgett is in Knysna vir die verfilming van 'n rolprent.

Maynard Kraak, 'n vervaardiger by die produksiehuis West Five Films, het gesê Bridgett is omstreeks 2:00 Maandagoggend aangeval. Hy is na 'n hospitaal geneem vir behandeling en is reeds ontslaan. Volgens die Knysna-Plett Herald is Bridgett so erg gewurg dat hy sy bewussyn verloor het.

Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat 'n man by 'n huis in Circularrylaan deur twee verdagtes oorval en aangerand is. Sy sê die 39-jarige slagoffer het op die bank gelê en slaap. “Hy is deur twee verdagtes wakker gemaak waarna hulle hom aangerand het. Hy het beserings opgedoen en is na 'n hospitaal geneem vir behandeling.”

Steyn sê talle items is uit die huis gesteel waaronder 'n iPhone, bankkaarte, 'n beursie en wyn. Sy sê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Bridgett is onder meer bekend vir sy rol as Chico Booysens in Isidingo en Jerome in 7de Laan. Hy het ook al in verskeie Afrikaanse rolprente waaronder Musiek vir die agtergrond en Jimmy in pienk verskyn sowel as talle verhoogproduksies.

Maroela Media

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.