On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Health

Dít besorg oudste mens (116) op aarde haar lang lewe

───   10:45 Thu, 16 Jan 2025

Dít besorg oudste mens (116) op aarde haar lang lewe | News Article
Tomiko Itooka. Foto: AP

Die wêreld se oudste mens, Tomiko Itooka, is op 29 Desember 2024 in die ouderdom van 116 jaar oorlede.

Sy het net enkele maande tevore, in Augustus 2024, Guinness-wêreldrekordstatus ontvang as oudste mens op aarde. Sy is by ’n versorgingshuis in Japan oorlede.

Itooka het voorheen vertel van haar liefde vir piesangs en ’n Japanse jogurt-gegeurde drankie genaamd Calpis wat sy elke dag ingeneem het. Sy het haar lang en gesonde lewe daaraan toegeskryf. 

Sy was ook ’n kranige bergklimmer en het twee keer die berg Ontake se 3 067 m tot die kruin uitgeklim.

Op 100 klim sy trappe sonder kierie

Sy het volgens haar seun, Hiroshi Kai, tot in haar tagtigs berge geklim en langs die see gaan stap. “Teen die tyd dat sy 100 geword het, was sy nog baie fiks. Sy het trappe geklim sonder om ’n kierie te gebruik.”

Itooka is op 23 Mei 1908 gebore, dieselfde jaar toe Ford sy Model T-voertuig bekend gestel het, en ses jaar voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog.

Toe sy meegedeel is dat sy boaan die wêreldranglys vir super-honderdjariges (mense ouer as 110 jaar) is, het sy eenvoudig geantwoord: “Dankie,” berig The Guardian


Itooka het blomme, ’n koek en ’n kaartjie van haar dorp se burgemeester ontvang toe sy in 2024 haar 116de verjaardag gevier het.

Derde van Japan se inwoners ouer as 65

Sy is op 20 getroud en het tydens die Tweede Wêreldoorlog die kantoor van haar man se tekstielfabriek bestuur. Haar man is in 1979 oorlede. Sy word oorleef deur ’n seun, ’n dogter en vyf kleinkinders.

Volgens Wikipedia het Japan 95 000 mense wat 100 jaar of ouer is – van wie 88% vroue is. Van die land se 124 miljoen mense is byna ’n derde 65 jaar of ouer.

Die Gerontologie-navorsingsgroep, wat tred hou met al die 100-jariges oor die wêreld heen, het bekend gemaak die wêreld se oudste persoon nou die 116-jarige Inah Canabarro Lucas is, ’n Brasiliaanse non wat 16 dae ná Itooka gebore is. Lucas skryf háár lang lewe toe aan haar Katolieke geloof.

Anna van Niekerk van Sannieshof. Foto: Facebook

Suid-Afrika se eie super-honderdjariges

Die Gerontologie-navorsingsgroep se webwerf verwys na drie van Suid-Afrika se eie super-honderdjariges. Hulle is:
- Anna van Niekerk (110) van Sannieshof in Noordwes, wat op 31 Maart 1909 gebore en op 22 Julie 2019 oorlede is;
- Johanna “Annie” Adonis (111), wat op 5 Augustus 1907 op Greyton in die Wes-Kaap gebore en op 1 Februarie 2019 in Kaapstad oorlede is; en
 - Rosalie Wolpe (112), wat op 25 Augustus 1909 in Johannesburg gebore en op 30 Desember 2021 in Kaapstad oorlede is.

Hier leef langlewendes gesond en gelukkig

In die Netflix-dokumentêr, Live to 100: Secrets of the Blue Zones, bestudeer Dan Buettner die dieet en lewenstyl van mense wat lang lewens leef, veral in gebiede wat hy as “blou sones” klassifiseer en waar mense ’n langer lewensverwagting het as die res van die wêreld.

Enkele voorbeelde van blou sones sluit in: Okinawa in Japan, Ikaria in Griekeland, Loma Linda in die VSA, Sardinië in Italië en Nicoya in Costa Rica.

“Natuurlike liggaamsbewegings deur die dag en om vir jou ’ doelwit te stel, is van die geheime tot ’n langer lewe,” sê Buettner. “En drink koffie, groen tee, swart tee, water en wyn.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.