On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende reeksverkragter kom voor in Virginia-hof

───   06:00 Wed, 26 Mar 2025

Vermeende reeksverkragter kom voor in Virginia-hof | News Article
Foto ter illustrasie

’n Vermeende reeksverkragter van die Vrystaatse Goudveld verskyn na verwagting Woensdag (26/3) in die landdroshof op Virginia.

Die polisie beskou die inhegtenisneming van die 28-jarige van die dorp Excelsior as ’n “groot deurbraak”. Virginia, Meloding en Makwane het van middel 2018 tot 2022 deurgeloop onder ’n misdaadvlaag, waaronder huisbrake, rooftogte, diefstal en die skep van ’n atmosfeer van vrees, sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“In dié tyd is (talle) sake van verkragting, huisbraak, huisroof en diefstal in die omgewing van Virginia en Meloding aangemeld,” voeg hy by. “Die verdagte is in polisieaanhouding en staan tereg op agt aanklagte van verkragting ná ’n uitgebreide ondersoek.”

Konst. Mosioua Ntholeng, ondersoekbeampte. Foto: SAPD

Twee jaar gelede het die forensiese laboratorium in Pretoria ’n leidraad voorsien wat ’n onbekende met sake in Makwane en Qwaqwa verbind het. Die dossiere is toegewys aan konst. Mosioua Ntholeng van die polisie se ondersoekeenheid vir reeks- en elektroniese misdaad in Bloemfontein, sê Kareli.

Hy het die slagoffers noukeurig opnuut ondervra, misdaadtonele herbesoek en -saamgestel en alle inligting tot sy beskikking ywerig opgevolg. Dit het eindelik daartoe gelei dat hy die 28-jarige van Excelsior, sowat 140 km suidoos van Virginia, as die vernaamste verdagte uitgeken het.

By nadere ondersoek het Ntholeng vasgestel dat die verdagte voorheen in hegtenis geneem is vir huisbrake op Virginia, Excelsior en in Welkom, waar ’n soortgelyke werkwyse as dié van die reeksverkragter gevolg is. ’n Wangsmeersel het sy identiteit bevestig.

In gevangenis besoek

Polisiebeamptes het hom Maandag in die gevangenis op Winburg besoek. Hy kom Donderdag voor op agt aanklagte van verkragting, sê Kareli. Hy is ook geïdentifiseer as die verdagte in nog twee inbraaksake in Welkom en op Virginia in 2023 gegrond op vingerafdrukbewyse.

Intussen net Mangaung se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe welslae behaal in die vervolging van ’n verdagte wat skuldig bevind is aan vyf aanklagte van verkragting.

Kareli sê Die Bloemfonteinse streekhof het Anthony Trevor Watson (39) skuldig bevind aan verkragtings wat gepleeg is tussen 15 Mei 2019 en 26 Februarie 2023. “Die staat het inligting voorgelê oor sy werkwyse, wat behels het dat hy slagoffers onder verskeie voorwendsels ontmoet en verkrag het.”

Sers. Bessie Nthoba, ondersoekbeampte. Foto: SAPD

Ses jaar gelede het Watson ’n 14-jarige na sy huis geneem, saam met haar dagga gerook en haar toe verkrag, sê Kareli. “In 2023 het hy ’n 23-jarige teëgekom wat hom sigarette gevra het. Hy het haar ook na sy huis geneem en verkrag.”

Tydens ’n ander voorval daardie jaar het hy ’n 46-jarige in ’n dwelmhuis ontmoet, haar van dwelms voorsien en verkrag, sê Kareli. Later daardie dag het hy ’n 30-jarige in ’n dwelmhuis ontmoet. 

Nadat hulle saam dwelms gebruik het, het sy gevra om by sy huis te bad omdat sy nie water tuis gehad het nie. Dié slagoffer is twee maal verkrag.

Vyf maal lewenslank

“Die noukeurige ondersoek is behartig deur sers. Bessie Nthoba, wat deurentyd in verbinding was met adv. Jan-Louis York van die NVG,” sê Kareli en voeg by die beskuldigde was aan al die slagoffers bekend. 

“Die saak was besonder uitdagend omdat die slagoffers erken het hulle het dwelms gebruik op die dag wat hulle verkrag is.”

Watson is vyf lewenslange vonnisse opgelê. Die hof het gelas dat hy die vonnisse vir die vierde en vyfde aanklagte gelyklopend sal uitdien.

In die jongste oorsigtydperk, Oktober tot Desember, is 844 verkragtings in die Vrystaat aangemeld, drie meer as in die tweede kwartaal ’n jaar tevore. Dit is 7,2% van die 11 803 verkragtings wat landwyd aangemeld is. Die Vrystaat se verkagtingskoers van 28,4 per 100 000 inwoners is egter die naashoogste.

OFM Nuus/Morné van Rooyen mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.