Central SA
Rocking the Vaal-fees skop af met ’n rekord─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Fri, 28 Mar 2025

Die jaarlikse Rocking the Vaal-fees het op ’n hoë noot begin met ’n nuwe Guinness Wêreldrekord.
Alles was is Vrydag (28/3) reeds slaggereed ’n opwindende naweek van rekordpogings en liefdadigheidsgedrewe feestelikhede.
Die fees, wat bekend is vir sy grootskaalse kosuitdagings, het nege skole van Vanderbijlpark en omliggende gebiede genooi om aan ’n unieke rekordpoging deel te neem: die meeste mense wat terselfdertyd brood breek. Die vorige rekord van 478 deelnemers is oortref toe 607 skoolkinders hul plek aan lang tafels ingeneem het om aan die uitdaging deel te neem.
Johannes van Helden (7) was een van die jong deelnemers. Foto verskaf
Deelnemers, met kokshoede en handskoene vir higiënedoeleindes, het in pare oorkant mekaar gestaan. Elke span het ’n ongesnyde brood gekry, en sodra die klok gelui het, het hulle tien sekondes gehad om dit in die helfte te breek.
Benewens die rekordpoging is Rocking the Vaal ook ’n geleentheid met ’n hart vir liefdadigheid. Ná vandag se broodbrekery het die deelnemers ’n ete van vars brood en sop geniet om te verseker niks word vermors nie.
Vreugde toe die organiseerders hoor dat die rekord suksesvol gebreek is. Foto verskaf
Die feesvieringe duur Saterdag voort by die Emerald-oord-en-casino met nog twee rekordpogings. Die een is om ’n 3 km lange kebab te bedien.
Die bestaande rekord is 2 047 m. Om dit te behaal, gaan 2 048 mense gelyktydig 2,4 t vleis braai.
Die bewys van die nuwe Guinness Wêreldrekord word oorhandig. V.l.n.r. Francois du Toit, Gerrit van Bemmel, Kobus Kleyn, Mbali Nkosi, Drinie Posthuma, Danie van Deventer. Foto verskaf
Die volgende rekordpoging sal wees om die grootste pot mieliepap te maak waarvan 12 000 mense kan eet. Ongeveer 2 t mieliemeel sal gebruik word om dié enorme pot pap te maak en die huidige rekord van 1 t mieliemeel te oortref.
Die geleentheid Saterdag (29/03) beloof om iets vir elke besoeker te bied. Van die musikante wat gaan optree, is Jo Black, Appel, Martin Bester, Ruhan du Toit, BlackByrd, Piesangskille, Dodo en Fatman. Daar sal ook kosstalletjies en ’n opwindende program wees.
Kaartjies kos R195 en sluit ’n ete, toegang tot die gelukstrekkings en die aand se musiekvertoning in. Toegang is gratis vir kinders onder 13.
OFM is ’n trotse mediavennoot van Rocking the Vaal.
Enige oorskietkos word aan liefdadigheid geskenk.