Central SA
Digter-dominee sê dankie met vierde digbundel─── KAREN VAN DER BERG 11:24 Thu, 13 Mar 2025

Dit is tyd vir hom om iets terug te gee aan sy skool. Die skool het vir hom die pad oopgemaak na die universiteit en die universiteit het vir hom die pad oopgemaak na die lewe.
So vertel die emeritus Gereformeerde predikant dr. Kobus Erasmus oor sy vierde digbundel, Rentmeester, wat eersdaags uitgereik word.
Erasmus, wat op Volksrust woon sedert hy daar afgetree het, sê hy het st. 5 op Aliwal-Noord voltooi en toe vir sy ma gesê hy gaan na Potchefstroom Gimnasium vir sy hoërskoolloopbaan. “Daardie tyd het dit vir my soos die regte besluit gevoel. Vandag weet ek dit was die regte besluit.”
Dr. Kobus Erasmus is nederig en dankbaar oor die digbundel wat as deel van sy skool, Potchefstroom Gimnasium, se 50-jarige reünie uitgereik gaan word. Foto verskaf
Hy het in 1975 gematrikuleer. Hulle matriekklas se 50-jarige reünie word op 23 Mei gehou, wanneer Erasmus sy digbundel gaan bekendstel. “Dit is vir my ’n manier om iets terug te gee aan die skool wat my toekoms vir my bepaal het.”
Erasmus het teologie studeer en as predikant en pastorale berader gewerk. Hy was predikant op Senekal, Alberton en Volksrust in kombinasie met Ermelo, waar hy einde April 2022 sy emeritaat aanvaar het.
Tussendeur het hy drie digbundels uitgegee: Vlug van die Arend (2020), Niemand is hoër as die Karoobossie nie (2021) en Brandwag (2022).
’n Uittreksel uit die bundel “Rentmeester”. Foto verskaf
Hy is trots op die toekenning om sy derde bundel te laat druk van die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans. Hierna het hy besluit om die volgende digbundel op te dra aan sy besonderse skool as antwoord op sy geseënde lewe.
Erasmus sê Rentmeester dra vir hom ’n belangrike tema van wat ’n mens met jou lewe maak. Hy is dankbaar vir drie vriende wat hom geldelik ondersteun het om die digbundel by Fontein-uitgewers te laat druk.
“Ek is dankbaar en erkentlik teenoor die Here vir hierdie gawe en om die opdrag uit te leef om te dig.”