On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Koster-belegger eis likwidasie van omstrede Kleuterzone

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:44 Thu, 13 Mar 2025

Koster-belegger eis likwidasie van omstrede Kleuterzone | News Article
Anthonie Bougas. Foto: Facebook

’n Belegger in die Kleuterzone-skolegroep bring ’n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof dat die maatskappy gelikwideer word weens bewerings van bedrieglike aktiwiteite en finansiële onstabiliteit.

Die aansoek is Woensdag (12/3) deur Anita Susanna du Plessis (55), van Koster in Noordwes, ingedien. Sy poog om haar belegging en dié van ander betrokke belanghebbendes te beskerm.

Anthonie Bougas (32), direkteur van die moedermaatskappy, Kleuterzone Holdings, het binne vyf jaar meer as 1 300 beleggers gekry en sowat R500 miljoen ingevorder met sy “unieke konsep” om sowat 130 skole te bekom.

Sy maatskappy se optrede is onder die loep geneem nadat Moneyweb vroeër berig het oor die volhoubaarheid van die maatskappy se sakemodel.

Dit bly of Anthonie Bougas se videos, waar hy oor die skool praat, verwyder is van sosiale media. Foto: Moneyweb

Du Plessis, wat in Desember R1 miljoen in Kleuterzone-aandele belê het, beweer die maatskappy se bedryfsmodel herinner sterk aan ’n piramiedeskema. Sy voer aan die onderneming, wat as ’n beleggingsgeleentheid met hoë opbrengs bemark is, het finansieel onstabiel geraak en beleggers mislei oor die ware stand van sy finansies. Volgens Du Plessis kan dit ernstige implikasies vir alle betrokkenes inhou.

Die aansoek sal Dinsdag (18/3) aangehoor word wanneer Du Plessis die onmiddellike likwidasie van die maatskappy se bates versoek. “Kleuterzone is nie in staat om sy finansiële verpligtinge na te kom nie, en die enigste manier om verdere skade aan beleggers te voorkom, is deur vinnige regstappe,” meen sy.

Sy vra ook likwidateurs moet aangestel word om toesig te hou oor die beëindiging van die maatskappy se bedrywighede en om te verseker dat sy bates op ’n ordelike en verantwoordelike wyse gehanteer word.

Kleuterzone is as ’n beleggingsgeleentheid met hoë opbrengs bemark. Foto: Facebook

In haar beëdigde verklaring beskryf Du Plessis haar ervaring met Kleuterzone en sê dat sy aanvanklik gereelde uitbetalings van die maatskappy ontvang het, wat sy beloftes van hoë opbrengste bevestig het.

Hierdie betalings het egter begin krimp sonder duidelike verduideliking. Toe sy navraag doen, is gesê die verlagings is te wyte aan ’n “dividendbelasting”, ’n moontlikheid wat nooit in die oorspronklike terme van die belegging genoem is nie. Eindelik is Du Plessis ingelig dat daar geen dividende beskikbaar is vir betaling nie, strydig met vroeëre versekerings.

Illustrasie: Facebook

Sy is ook verder meegedeel Kleuterzone is besig om aan ’n potensiële groep, waarvan die naam nie bekend gemaak is nie, verkoop te word.

“My belegging is nie voldoende terugbetaal nie en nog minder het ek die beloofde voordele gekry. Dit tesame met die gebrek aan deursigtigheid van Kleuterzone se finansiële sake en versuim om te hou by die bepalings van die beleggersooreenkoms noop my om die likwidasie van Kleuterzone aan te vra ten einde my belange asook die belange van die skuldeisers te beskerm en te verhaal.”

Du Plessis sê ander beleggers het soortgelyke kwessies aangemeld, insluitend onreëlmatighede in finansiële rekords en ’n gebrek aan deursigtigheid rakende die maatskappy se bedrywighede.

Anonieme kommentaar stel voor ouers betaal die skool direk. 

“Die maatskappy se bedrywighede is in geheimhouding gehul, met verskeie filiale wat moeilik is om op te spoor,” sê Du Plessis. “Verslae van besorgde beleggers onthul bedrieglike aktiwiteite, insluitend die wanbesteding van fondse en nie-openbaarmaking van kritieke finansiële inligting.”

Mathys Krog, Du Plessis se regsverteenwoordiger, bevestig ander beleggers het na vore gekom om by die aansoek aan te sluit, wat die groeiende kommer oor Kleuterzone se finansiële praktyke onderstreep. “Die regspan versoek ook ’n forensiese oudit na die maatskappy se bedrywighede en finansiële transaksies, met die hoop dat so ’n ondersoek verdere ongerymdhede aan die lig sal bring.”

OFM Nuus het Bougas om kommentaar genader.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.