Central SA
Petisie van stapel gestuur wat watertoegang na Vrystaatse dorp eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:23 Thu, 13 Mar 2025

’n Klagskrif word versprei op ’n Vrystaatse dorp, wat al maande sonder water en behoorlike sanitasie moet klaarkom.
Inwoners van Heilbron se Phiritona Uitbreiding 10 raak ál meer gefrustreerd met die voortslepende waterkrisis.
Daarom begin die DA ’n petisie wat onmiddellike watervoorsiening eis vir inwoners wat in September verlede jaar erwe ontvang het, sê die DA-raadslid Robert Ferendale in die Ngwathe-munisipaliteit.
Heilbron. Foto: Facebook
“Ten spyte van die formele indiening van ’n skriftelike versoek aan die munisipale bestuurder oor die kwessie, is geen stappe gedoen nie.”
Ferendale voeg by as die munisipaliteit aanhou om die situasie te ignoreer, sal die DA die saak na die Menseregtekommissie eskaleer.
Hy sê tussen 300 tot 400 mense woon in die gebied, en hulle word gedwing om die veld as badkamer te gebruik weens die gebrek aan toilette. “Die munisipaliteit beweer dat die bestaande pype nie aan die hoofstelsel gekoppel kan word nie, wat inwoners sonder behoorlike sanitasie laat,” sê Ferendale.
‘Enkele JoJo-watertenk van 1 250 L aan die inwoners voorsien’
Om die watertekort te verlig, is daar ’n enkele JoJo-watertenk van 1 250 L om water aan die inwoners te voorsien, maar dit word net Woensdae hervul.
Volgens Ferendale is dit skokkend dat die tenk die afgelope vier weke nie hervul is nie, wat selfs bejaarde inwoners gedwing het om amper 1 km te stap om water te gaan haal.
“Inwoners het nie op ’n gereelde basis toegang tot water gehad sedert hulle na die gebied verhuis het nie. Die enkelwatertenk was aanvanklik bedoel om daagliks gedraai en gevul te word. Bykomende watertenks moes voorsien gewees het, maar nie een was nie.”
LEES OOK: Heilbron al langer as 45 dae sonder water
Hy sê Phiritona Uitbreiding 10 is ’n wettige terrein wat goedgekeur is vir inwoners wat vir erwe gekwalifiseer het, sowel as individue wat grond daar gekoop het.
“Ons vra alle geaffekteerde en besorgde inwoners moet ons petisie ondersteun en verseker dat hierdie probleem sonder verdere vertraging opgelos word,” sê Ferendale.
OFM Nuus het Ngwathe om kommentaar genader.
OFM Nuus mvh