On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Leerling (21) in aanhouding ná aanval op onderwyser

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:35 Thu, 13 Mar 2025

Leerling (21) in aanhouding ná aanval op onderwyser | News Article
Hendrick Dimo, die onderwyser wat deur die leerder met ’n mes aangeval is, is ook die Sadou-streeksekretaris van die Noord-Vrystaatstreek. Foto: Facebook

’n Vrystaatse leerder bly in aanhouding totdat hy Woensdag (19/3) weer in die hof verskyn nadat hy na bewering ’n onderwyser met ’n mes gesteek het en die skoolhoof wou aanval.

Teboho Johnson Busa (21), ’n gr. 10-leerling aan die Sekondêre Skool Kgabareng in Rammulotsi op Viljoenskroon, het glo Maandag (10/3) opstandig geraak nadat ’n onderwyser (55) hom en ander leerlinge aangespreek het omdat hulle laat was, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Klasse is Woensdag by alle skole in Rammulotsi opgeskort sodat onderwysers die hofverskyning kon bywoon.

Volgens Earle het Busa die personeelkamer verlaat nadat hy betig is. “Toe die onderwyser hom volg, het Busa na bewering ’n mes uitgepluk en die onderwyser in die regterhand en skouer gesteek.

Onderwyser het hom en ander aangespreek

“Toe die skoolhoof tussenbeide tree, het Busa na bewering probeer om hom ook te steek. Die skoolhoof is nie beseer nie.”

Rapuleng Hendrick Dimo, die beseerde onderwyser, is Maandag vir sy beserings behandel en sterk tuis aan, sê Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder. Die departement verskaf berading aan sy kollegas en leerlinge wat die voorval aanskou het.

Dr. Mantlhake Maboya, die Vrystaatse LUR vir onderwys, veroordeel die voorval en sê wangedrag en wetteloosheid het geen plek in ’n leeromgewing nie.

Beseerde onderwyser vir beserings behandel

Sadou in die Vrystaat vra intussen wetstoepassers moet verseker dat die oortreder die gepaste straf kry. Die vakbond eis ook die skoolbeheerraad en provinsiale onderwysdepartement moet die nodige tugstappe teen die 21-jarige doen.

“As ’n land kan ons nie bekostig om waardevolle opvoeders te verloor weens leerders wat skool toe kom met ander motiewe as om te leer nie,” sê Sadou. “Ons skole behoort nie slagvelde te wees waar booswigte vryelik by misdaad betrokke kan raak nie.”

Sadou vra die onderwysdepartement moet skoolveiligheid ernstiger opneem.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.