On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Childline Free State staak programme weens beëindiging van USAid

───   ZENANDE MPAME 12:51 Wed, 12 Mar 2025

Childline Free State staak programme weens beëindiging van USAid | News Article
Childline Free State staak programme weens USAid-finansiering. Foto: Facebook/Child Welfare Bloemfontein and Childline Free State

Childline Free State moet programme in ander distrikte staak weens die opskorting van finansiering van USAid, sy grootste befondser die afgelope 13 jaar.

Die welsynsorganisasie moes sy implementeringspersoneel vir Februarie op tydelike diensbeëindiging plaas nadat hy kennis ontvang het dat finansiering nie voortgaan nie.

Die organisasie moes ook van 47 werknemers ontslae raak, en voertuie en meubels sal binnekort deur die Networking HIV and Aids Community of South Africa teruggevorder word.

“Sonder onmiddellike finansiering kan ons nie ons programme vir die voorkoming en hantering van geslagsgeweld in Lejweleputswa en Thabo Mofutsanyana voortsit nie,” sê Marietha Johnson, Childline Free State-direkteur. “Dit laat honderde weerlose individue sonder broodnodige ondersteuning.”

‘Die finansieringsooreenkoms sou tot September voortgeduur het’

“Childline Free State sal steeds ons hulplyn en kinderbeskermingsdienste in die Mangaung-metro bedryf, en ons streef daarna om uitreikveldtogte in die Vrystaat te handhaaf, maar sonder finansiering sal die omvang en impak van hierdie pogings aansienlik verminder.”

Die finansieringsooreenkoms sou tot September voortgeduur het, maar ná die aanvanklike tydelike opskorting op Maandag 27 Januarie is op Donderdag 27 Februarie bevestig dat finansiering nie sal voortgaan nie, sê sy.

Die organisasie het maandeliks R664 967 van Pepfar USAid ontvang, wat dit moontlik gemaak het om ’n program vir geslagsgeweldvoorkoming te implementeer. Dit het bewysgebaseerde gedragsveranderingsprogramme soos “No Means No”, seksuele en voortplantingsgesondheid, finansiële geletterdheid en mentorskap ingesluit, wat maandeliks 500 adolessente meisies en jong vroue bereik het.

Ons sal steeds Childline se 24-uur-hulplyn vir vroue en kinders in nood bedryf. Foto: GoogleMaps

Dit het ook die geslagsgeweldreaksieprogram gefinansier wat psigososiale ondersteuning, traumahulp, verwysings, opvolging, skakeling met die minimum gesondheidspakket en kognitiewe gedragsterapie ingesluit het. Hierdie dienste is gelewer by twee Thuthuzela-sorgsentrums, vyf hospitale en drie klinieke.

“Personeel het sedert die aankondiging geen salarisse ontvang nie, en dit is soms moeilik om hulle te kontak omdat hulle nie lugtyd op hul selfone het nie,” sê Johnson.

“Ons sal steeds Childline se 24-uur-hulplyn vir vroue en kinders in nood bedryf, maar ons sal slegs hulp in Mangaung kan bied en nie in die res van die Vrystaat nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.