Central SA
Noord-Kapenaar in hof weens metaaldiefstal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Wed, 12 Mar 2025

’n Noord-Kapenaar sal binnekort in die hof verskyn vir duisende rande se metaaldiefstal ná ’n ondersoek na skade aan noodsaaklike infrastruktuur.
Die verdagte (70) is Dinsdag (1/3) op Jan Kempdorp in hegtenis geneem tydens ’n optrede deur ’n multidissiplinêre span, sê lt.kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
“Die polisie het op die betrokke dag omstreeks 09:00 opgetree nadat (ons) inligting ontvang het en ’n klopjag op ’n skrootwerf op Jan Kempdorp uitgevoer het.” Die eienaar is terstond in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere.
Die sonpanele. Foto verskaf
“Die operasie, wat die provinsiale eenhede vir vuurwapens, drank en tweedehandse goedere en georganiseerde misdaad, asook die taakspan vir noodsaaklike infrastruktuur en Jan Kempdorp-polisie se tweedehandsegoederebeampte behels het, het gelei tot die ontdekking van koperkabels, koperpype, sonpanele en spreiligte van sowat R30 000.”
Namate koperpryse wêreldwyd styg, kan misdaadsindikate hul diefstalaktiwiteite uitbrei, wat lei tot verdere ekonomiese verliese, berig BusinessTech. Koperpryse het verlede jaar rekordhoogtes bereik vanweë toenemende vraag en ’n verwagte tekort.
Koper is van kardinale belang vir nywerhede soos telekommunikasie, kragopwekking en konstruksie. Dit word gebruik in breëbandnetwerke, transformators en kragopwekkers.
’n Noord-Kapenaar sal binnekort in die hof verskyn vir metaaldiefstal ter waarde van duisende rande. Foto verskaf
Die vraag na koper neem ook toe weens die groei van hernubare energie. Volgens die Internasionale Energieagentskap (IEA) verg elke MW wind- en sonkrag tussen 3 en 5 t koper.
Daar is ’n verwagte tekort aan koper en die opkoms van elektriese voertuie dryf ook die vraag aan, aangesien elke voertuig sowat 83 kg koper gebruik, vergeleke met slegs 23 kg in tradisionele motors. Hoewel herwinning in ongeveer 35% van die kopervraag voorsien, bly dit onvoldoende.
Die IEA waarsku teen 2030 sal aan net 80% van die wêreldwye kopervraag voldoen word, wat pryse selfs verder kan laat styg soos nywerhede uitbrei en op meer volhoubare energieoplossings aandring.
OFM Nuus mvh