Central SA
Vrystaters in hof oor vals ontvoering van kleuter─── ZENANDE MPAME 09:52 Wed, 12 Mar 2025

Twee vroue verskyn Woensdag (12/3) in die Welkomse landdroshof op aanklagte van meineed, bedrog en mensehandel nadat die biologiese ma haar pasgeborene twee jaar gelede weggegee het.
Die twee was vriendinne op Facebook en het in 2023 ooreengekom om ’n pasgeborene met geboorte te ruil, maar twee jaar later het die biologiese ma (24) haar kind terugeis.
Dit het daartoe gelei dat die 46-jarige van Bultfontein wat die kind grootgemaak het Sondag (9/3) ’n valse ontvoeringsklagte by die Thabong-polisiekantoor ingedien het.
“Die polisie het Maandag ’n misdaadtoneelondersoek uitgevoer om die sogenaamde ontvoeringstoneel te dokumenteer,” sê Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Daar is egter geen bewys van ’n ontvoering gevind nie.”
‘Die suigeling is kort na geboorte aan die Bultfonteinse vrou oorhandig’
Verdere ondersoek het getoon dat die biologiese ma die kind Sondagoggend by die vrou van Bultfontein gaan haal het, wat haar toe aangespoor het om ’n saak te open.
Speurders het ook vasgestel dat die biologiese ma twee jaar gelede in Bloemfontein die lewe geskenk het en die suigeling kort daarna aan die Bultfonteinse vrou oorhandig het. Daarna het sy die Bultfonteinse vrou se identiteitsdokument gebruik om die kind valslik by binnelandse sake te registreer.
“Ondersoeke duur voort, en die tweejarige is in die sorg van die Phuthaditjhaba- maatskaplike dienste,” sê Earle.
Intussen verskyn die Vaaldriehoekse ma wat glo haar tweejarige kleuter verkoop het, Maandag 7 April weer in die landdroshof in Vanderbijlpark nadat haar borgtogaansoek geweier is.
Keneilwe Shalaba (33) het Woensdag 19 Februarie in aanhouding die lewe aan ’n tweeling geskenk, nadat sy tydens haar borgtogaansoek beweer het dat sy as ’n hoogswanger vrou nie behoorlike mediese sorg ontvang nie.
Sy word aangekla van mensehandel, sameswering om ’n misdaad te pleeg en meineed nadat sy glo in November oor haar kind se ontvoering gejok het.