Central SA
‘Ek voel nie oud nie’ – 96-jarige Ellie van Bethlehem─── 09:41 Wed, 12 Mar 2025

Op 6 Maart 1929 het Bethlehem ’n besonderse mens ryker geword. Dié mens het pas haar 96ste verjaardag saam met haar geliefdes gevier, maar sy is nie sommer enige 96-jarige nie.
Ellie van der Wath is kwaai, sy is goed, sy is liefdevol en hou van mooi wolke en die maan.
Sy hou van kunstenaars soos Nataniël en Marc Lottering. Sy loop geen aflewering van Masterchef Australia mis nie en ken al die sjefs by die naam.
Elke dag begin vir haar nuut wanneer sy haar gordyne ooptrek, die lig sien en haar voëltjies hoor sing.
Ouma Ellie by haar inkleurwerk. Foto verskaf
Sy was ’n nooi Nel, een van agt kinders, van wie nog net sy leef. Sy is Elsie Catharina gedoop, maar danksy oorlede sr. Matthysen het as saalsuster by die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem begin werk.
Dit was in die jare van die gewilde Amerikaanse TV-dramareeks Dallas, en iemand by die hospitaal het vir haar gesê sy lyk soos ou Miss Ellie, die booswig JR Ewing se ma. Van toe af is sy Ellie, maar vir haar kleinkinders ouma Nenna.
Sy is ’n skatryk moeder van vier kinders, nege kleinkinders, 25 agterkleinkinders en vier agter-agterkleinkinders. As geliefde anker vir haar familie glo Ellie: “’n Ma se trane is ’n leer na die Here toe.”
Ellie en haar vier kinders. Van links saam met ma Ellie is Martie Viviers, Elsie Rothman (oudste), Kobus van der Wath en Bussie van der Walt. Foto verskaf
Sy bid elke dag vir al haar kinders en “die Here is vir hulle almal goed”.
En wat het sy nie alles in haar leeftyd gedoen nie! Met die opbrengs van haar naaldwerktalent het sy al haar kinders deur die skool gekry.
Sy het selfs skoolklere vir die skole op Bethlehem gemaak en trourokke, gebrei, gehekel, driekwart van haar eie klere gemaak, en min dinge staan vir haar hande verkeerd. Haar vennoot met die skoolklere was Willa Cronjé van Die Linnebank.
Saam met Ellie is haar vier kinders. Hulle is van links (voor) Elsie Rothman en Bussie van die Walt en (agter) Kobus van die Wath en Martie Viviers. Foto verskaf
Ellie vertel graag oor die ou dae. Sy was in die Bethlehemse Handelskool toe mnr. Kriel hoof was. Die skool het met 30 leerlinge begin.
Sy was ook in die Laerskool Truida Kestell en Bethlehem Voortrekker Hoërskool, maar het haar matrieksertifikaat aan die handelskool verwerf. Daarna het sy ses maande ’n ekstra kursus gevolg en só ’n naskoolse sertifikaat verwerf.
Haar bande met Bethlehem is innig en sterk. Sy is in Moederkerk gedoop waar sy ook haar geloofsbelydenis afgelê het. Later is al haar kinders in NG Moederkerk gedoop en van hulle ook daar getroud. Sy was die NG Gemeente Bethlehem-Panorama se eerste vroulike diaken én vrouderling.
Van links na regs by die stoel se oortreksels wat Ellie gehekel het, is Jannie Rothman (skoonseun), Ellie van der Wath, Bussie van der Walt (dogter) en Elmarie Berry (kleindogter). Foto verskaf
Haar gesondheid is redelik. Sy het al ’n heupoperasie gehad en verlede jaar gordelroos onder lede gehad, maar het alles deurleef.
Sy is ’n gekontroleerde diabeet, sê sy. Sy kan nog loop met die hulp van haar kierie hoewel sy soms kroek, want sy is darem nie so afhanklik van hom nie.
In haar gordelroosstryd het haar skoonseun Jannie Rothman ’n “commode” daar aangebring. Sy het die “commode” so gekyk en vir haarself gesê: Ek is nie oud nie. Ek noem jou sommer Lilly (na ’n predikantsvrou), wat.
Oor-oumagrootjie Nenna met haar agter-agterkleinkind Milé Jacobs op haar skoot en langs hulle Bussie van der Walt. Agter is Elmarie Berry, dogter van Bussie, en haar dogter, Gwyneth Jacobs.
Ellie se vel is nog pragtig glad vir 96 jaar. Die donker kolletjie op haar een wang is nie ernstig nie; dis sommer droë bloed. Die rooi kolletjie op die regterwang is sommer ’n geboortemerkie.
Sy het in die ou dae graag saam met ’n vriendin vakansie gehou op plekke soos Amanzimtoti. Met hul aankoms het hulle eerste gekyk waar is die polisiekantoor, die hospitaal en die “hoekapteek” waar hulle likeur en “kasteeltjies” kon gaan koop. Die bier was pure plesier, vertel sy.
Haar ouers was haar rolmodelle en sy kon hulle lewenswaardes aan haar eie kinders oordra. ’n Mens moet “dankie” en “asseblief” kan sê. ’n Mens gee alles vir iets, en wanneer julle as kinders daarmee klaar is en julle is trots, is dit vir julle ook lekker.
Die los blaadjie in Ouma Ellie se Bybel met haar kinders en nasate se besonderhede daarop. Foto verskaf
Bedags hou sy haar besig met stokperdjies soos woordsoek, Huisgenoot lees en inkleur. In haar Bybel is al haar kinders en nasate se besonderhede wat sy netjies op ’n los blaadjie geskryf het. Hulle is haar rykdom. Haar gunstelingpsalm is 91: Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind …
“Wat is 96?” murmureer Ellie. “Dis genade van Bo. ‘Oud’ en ‘ouderdom’ is egter net woorde in die woordeboek.
“’n Mens moet jou kop en hande besig hou, wolke bekyk, die maan geniet en al die kinders wat die Here vir jou gegee het. “Die Here is goed vir my.”