Central SA
Noord-Kaapse landbou-unie geskok oor vonnisse van Brand-beskuldigdes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Wed, 12 Mar 2025

’n Landbou-unie in die Noord-Kaap doen ’n beroep op die regering, die polisie en die regstelsel om onmiddellik op te tree om die voortdurende kwessie van plaasmoorde aan te spreek.
Die unie het ook sy diepe teleurstelling uitgespreek oor die vonnis wat opgelê is aan die drie individue wat verantwoordelik is vir die moord op die Brand-gesin.
“Ons rig ’n sterk versoek tot die minister van Justisie om die vonnisse wat vir plaasmoorde opgelê is, te hersien,” sê Christelle Stoman, woordvoerder van die Vaalharts-distrikslandbou-unie.
Die VDLU het Maandag (10/3) sy ontevredenheid oor die hantering en vonnisoplegging van plaasmoordsake uitgespreek en veral skok en woede uitgespreek oor die hofuitspraak in die saak van die Brand-familie se wrede aanval en moord. Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54) is op 26 Julie 2020 wreed aangeval en vermoor.
“Die uitspraak het ’n vlaag van skok en woede deur ons plaaslike boeregemeenskap gestuur, en ons deel ten volle in hierdie emosies,” sê Stoman. Sy beklemtoon spesifieke aspekte van die hof se uitspraak wat die VDLU diep ontstellend vind.
“Ons is van mening dat die vonnisse wat opgelê is, nie die erns van die misdaad weerspieël nie en nie ’n afskrikmiddel vir toekomstige misdadigers sal wees. Die feit dat die beskuldigdes na 15 jaar (of selfs vroeër) vir parool in aanmerking kan kom, is skokkend.
‘Nie ’n geïsoleerde voorval nie’
“Groot ontevredenheid heers oor die vroulike verdagte wat na ons mening die meesterbrein agter die moorde was, nie skuldig bevind is afgesien van talle bewyse wat aan haar verbind kan word.
“Die unie is ook veral bekommerd oor die skynbare gebrek aan sensitiwiteit teenoor die brutaliteit van die misdaad en die impak daarvan op die slagoffers se familie en die breër gemeenskap.
“Die moord op die Brand-gesin is nie ’n geïsoleerde voorval nie. Plaasmoorde bly ’n aanhoudende en groeiende probleem in Suid-Afrika, en die VDLU is diep ontevrede met hoe hierdie misdade ondersoek, hanteer en veroordeel word,” sê Stoman.
Die VDLU meen dat:
- plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word;
- Die polisie se ondersoeke van plaasmoorde, sowel as ander geweldadige aanvalle op plaasboere en hul gesin, verbeter moet word; en
- die regstelsel strenger vonnisse oplê vir diegene wat skuldig bevind word aan plaasmoorde.
“Meer hulpbronne moet toegewys word om die veiligheid van plaaslike gemeenskappe te verseker. Tans val die las om hulself te beskerm feitlik geheel en al op landbou-unies of individue, teen groot persoonlike koste,” sê Stoman.
Christelle Stoman. Foto verskaf
Die drie beskuldigdes – Donald Seolesang (25), Tshepo Visagie (43) en Tshepoane Melato (24) – is skuldig bevind aan moord op die Brand-gesin, asook aanklagte van roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Seolesang is boonop daaraan skuldig bevind dat hy uit wettige aanhouding ontsnap het.
Die hooggeregshof in Kimberley het Vrydag (7/3) elk van die drie mans tot 25 jaar gevonnis vir die moorde. Hulle is ook 15 jaar opgelê vir die aanklag van roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir regsverydeling.
Boonop het Seolesang ’n vonnis van twee jaar gekry vir ontsnapping uit aanhouding.
LEES OOK: Noord-Kaapse gesin se moordenaars kry 40 jaar elk
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die vonnisse vir roof met verswarende omstandighede en regsverydeling sal nie gelyktydig met die moordvonnisse uitgedien word nie, maar agtereenvolgens. Gevolglik het elke veroordeelde ’n totale vonnis van 45 jaar tronkstraf gekry.
Een van die verdagtes, Realeboga Manyedi, is kort ná die moorde in hegtenis geneem. Hy het die polisie na die plekke gelei waar die lyke van die drie familielede in die bosse in ’n veld naby Taung versteek was.
‘Uit aanhouding ontsnap’
Die ander verdagtes is later aangekeer terwyl hulle een van die gesin se gesteelde voertuie bestuur het. Seolesang het uit aanhouding ontsnap, maar is weer in hegtenis geneem nadat ’n familielid die polisie laat weet het oor waar hy hom bevind.
Die beskuldigdes bly in aanhouding hangende hul skuldigbevinding en vonnisoplegging.
OFM Nuus mvh