Central SA
Aliwal-Noordse boervrou in hof ná beweerde komplot om man te vermoor─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 07 Mar 2025

’n Boervrou (46) verskyn op 23 April in die Aliwal-Noordse landdroshof ná ’n beweerde komplot om haar man te laat vermoor in ’n “plaasaanval”.
Anelle de Bruin word aangekla van sameswering tot moord nadat sy na bewering haar man se moord beplan het vir ’n R50 miljoen versekeringsuitbetaling en probeer het om dit na ’n plaasaanval te laat lyk.
Die saak is Woensdag (5/3) uitgestel weens onvolledige verklarings, fotoalbums en selfoonrekords. De Bruin is vrygelaat op R2 000 borg, met spesiale voorwaardes dat sy nie na die plaas mag terugkeer nie en net onder toesig haar kinders mag sien.
“Die beskuldigde is in hegtenis geneem ná ’n wenk van ’n tussenganger wat sy glo genader het om huurmoordenaars te kry om haar 56-jarige man, ’n boer van Aliwal-Noord, dood te maak,” sê Luxolo Tyali, Oos-Kaapse NVG-woordvoerder.
“Die beskuldigde het reeds ’n vooruitbetaling aan die tussenganger gedoen en belowe om die res te betaal nadat die moord uitgevoer is en die versekeringsgeld uitbetaal is.”
Volgens Tyali is De Bruin glo opgeneem waar sy opdrag gee dat die huurmoordenaars ná die skiet van haar man ook die gesin se honde en die voertuig se bande moes skiet, sodat dit na ’n tipiese plaasaanval lyk.
Die aanval was vir Woensdag, 8 Januarie, beplan, en De Bruin het glo die tussenganger ingelig oor hoe lank dit sou neem vir boere van buurplase om te reageer. Die polisie is vooraf ingelig deur die tussenganger, en De Bruin is op Donderdag 9 Januarie in hegtenis geneem.
Anelle en haar man, Johan. Foto: Facebook
“Die vervolgingsgesag vervolg sake soos hierdie, wat die veiligheid en welstand van ons gemeenskappe raak, om geregtigheid vir slagoffers van misdaad te verseker,” sê Tyali.
Die derde kwartaalmisdaadstatistieke vir 2024/25 toon dat die Vrystaat byna die helfte van die land se plaasmoorde aangeteken het, insluitend twee plaaswerkers, een boer, een plaasbewoner en een sekuriteitsbeampte.
Die Oos-Kaap het een moord aangeteken wat met ’n plaasgemeenskap verbind word, maar dit is nie gespesifiseer of dit ’n plaasbewoner of ’n werker was nie.