Central SA
Goudvelders aangekeer weens ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 05:30 Mon, 03 Mar 2025

Drie Goudveldse verdagtes is in polisieaanhouding en wag op hul eerste hofverskyning nadat hulle in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie gevind is.
Die inhegtenisnemings het Saterdag (1/3) omstreeks 20:00 plaasgevind toe lede van Welkom se teenbende-eenheid, wat vir misdaadbekampingsoperasies in Thabong voorberei het, ’n wenk ontvang het oor 'n gewapende verdagte in die gebied, sê sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder.
Toe hulle die perseel in Maspala, Thabong, betree, is hulle na ’n agterkamer gelei waar hulle die drie verdagtes teëgekom het – twee mans (28 en 37) en ’n vrou (34).
’n Deeglike deursoeking van die kamer het ’n 9 mm-vuurwapen en ammunisie ontdek wat onder ’n bed versteek was. Al drie verdagtes is onmiddellik in hegtenis geneem.
Onwettige immigrante
Kareli sê verdere ondersoek het aan die lig gebring dat al drie verdagtes buitelandse burgers is en nie geldige dokumentasie kon verskaf wat hul teenwoordigheid in Suid-Afrika magtig nie. Gevolglik is hulle ook van onwettige immigrasie aangekla.
Die verdagtes sal binnekort in die Welkom-landdroshof verskyn.
In 'n ander saak sal nog ’n man sal binnekort in die Rustenburg-landdroshof verskyn omdat hy na bewering ’n vragmotor gesteel het.
Die gesteelde vragmotor. Foto verskaf
Die verdagte (42) is kort ná die misdaad op 28 Februarie in hegtenis geneem, ná 'n wenk tydens ’n Safer City-operasie. Die polisie, bygestaan deur die vragmotorhandelaar en plaaslike boere, het die gesteelde Toyota Dyna-vragmotor wat na bewering op Kroondal, Noordwes, gesteel is, in Maanhaarrand opgespoor.
Die verdagte, ’n Zimbabwiese burger, is daar in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van diefstal en die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig. Hy is wettig in Suid-Afrika.
OFM Nuus cg