Central SA
Noordwes-man binnekort in hof nadat hy glo vragmotor steel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:26 Sun, 02 Mar 2025

’n Man van Noordwes sal Maandag (3/2) in die Rustenburgse landdroshof verskyn nadat hy glo ’n vragmotor gesteel het.
Die vinnige en gekoördineerde pogings om misdaad te bekamp het gelei tot die inhegtenisneming van die vermeende kaper (42) enkele minute nadat die beweerde misdaad gepleeg is, se kapt. Mpho Manyoba.
As deel van die polisie se Safer City-operasie was hulle Vrydag (28/2) omstreeks 09:00 in Rustenburg se middedorp toe hulle ’n wenk ontvang oor ’n wit Toyota Dyna-vragmotor, wat deur ’n ongeïdentifiseerde man van ’n tweedehandse motorhandelaar op Kroondal gesteel is.
Aanvanklike berigte het aangedui dat die gesteelde voertuig na Rustenburg op pad was.
Die vragmotor wat glo gesteel is. Foto verskaf
Volgens Manyoba het die motorhandelaar die polisie ingelig dat hy die vragmotor op die R24-pad na Magaliesburg agtervolg. Die polisie, bygestaan deur die eienaar en plaaslike boere, het die voertuig agternagesit.
“Die vragmotor is uiteindelik naby Maanhaarrand onderskep, waar ’n Zimbabwiese burger ondervra is. Die verdagte is in hegtenis geneem toe hy nie ’n bevredigende verduideliking vir die vragmotor in sy besit kon gee nie.”
Zimbabwiër wettig in land
Die man, wat wettig in die land is, staan tereg op aanklagte van diefstal en besit van 'n vermoedelik gesteelde voertuig. Hy sal na verwagting binnekort in die Rustenburgse landdroshof verskyn.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris, loof die vinnige inhegtenisheming en dank almal wat by die suksesvolle operasie betrokke was vir hul samewerking.
OFM Nuus cg