On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nasionale seksoortredersregister nou eers later bekendgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:20 Sun, 02 Mar 2025

Nasionale seksoortredersregister nou eers later bekendgestel | News Article
Foto: kelsolawyers.com

Onsekerheid heers oor die nuwe bekendstellingsdatum van die Nasionale Register vir Seksoortreders nadat aanvanklik aangedui is dat dié lys einde Februarie beskikbaar sou gewees het.

Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en politieke ontwikkeling, se kantoor het egter Vrydag gesê dat die lys nog nie bekendgemaak kan word nie weens “vertroulikheids- en openbaarmakingsbepalings” ingevolge die Wet op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede. 

Gevolglik moet die wetgewing gewysig word voordat die register gepubliseer kan word.

“Die minister het ’n proses begin waarin kundiges en relevante instansies geraadpleeg sal word. Ons sal ook nou saamwerk met die Inligtingsreguleerder se kantoor om nakoming van alle wette rakende privaatheid te verseker wanneer die register vrygestel word,” lui ‘n verklaring van die minister se kantoor.

Mmamoloko Kubayi, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling. Foto: The Citizen

Terwyl ’n nuwe publikasiedatum nog nie vasgestel is nie, het die minister haar daartoe verbind om die register “so gou moontlik” beskikbaar te stel.

Daarbenewens het die minister haar departement opdrag gegee om die register in fases vry te stel. In die eerste fase sal instellings wat met kinders werk toegang hê, gevolg deur algemene werkgewers in die tweede fase.

Die besluit om die register te publiseer volg op jare se voorspraak en openbare veldtogte deur Action Society. Die register sal verseker dat veroordeelde kindermolesteerders in die publiek bekend sal wees en verbied sal word om in die toekoms met kinders te werk.


Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society, het vroeër ná die aankondiging die besluit verwelkom.

Sy verteenwoordig is een van organisasies wat in Desember die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling gevra het om die register aan die publiek beskikbaar te maak.

Die studie het aan die lig gebring dat 16 097 onderwysers kriminele rekords gehad het, insluitend oortredings soos verkragting, moord, aanranding, diefstal, roof, bedrog, dwelmverwante oortredings, huisbraak en ernstige verkeersoortredings.

‘Privaatheidswette behoort nie seksoortreders te beskerm nie’

“In Suid-Afrika is die register nie ’n openbare dokument nie. Ouers het geen manier om die agtergrond van diegene wat met hul kinders toevertrou is, se veiligheid na te gaan nie,” het Du Preez gesê. “Action Society eis dat die lys van seksoortreders bekend gemaak word, aangesien privaatheidswette nie individue wat van seksmisdade beskuldig word, behoort te beskerm nie.”

Du Preez vind dit skokkend dat seksoortreders en verkragters kinders onderrig, en sê: “Hierdie individue word nie net vertrou om op te voed nie, maar ook om ons kinders te beskerm, en nou hou selfs hierdie instellings ’n risiko vir [kinders se] veiligheid in.”

Meer as 16 000 onderwysers het glo kriminele oortredings. Foto: iStock

Sy het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers oop gesprekke met hul kinders oor seksuele misbruik moet voer en altyd onvanpaste gedrag moet rapporteer. “Ouers moet gesagsfigure vertrou wat daagliks met hul kinders omgaan. 

“Action Society is bewus van tragiese voorvalle, soos die geval waar ’n vierjarige verkrag is deur die mede-eienaar van haar kleuterskool, of wanneer ’n tiener deur haar pastoor verkrag is. “In twee van die mees hoëprofielgevalle is kleuters uit parke ontvoer terwyl hulle gespeel het en die volgende dag wreed vermoor gevind.

“Om die register van seksoortreders openbaar te maak sal ’n belangrike stap vorentoe wees. Hierdie oortreders behoort nie beskerm te word nie,” sê Du Preez.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.