On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Senior Opod-lid in hof weens vrou se vreemde dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:09 Sat, 01 Mar 2025

Senior Opod-lid in hof weens vrou se vreemde dood | News Article
Foto: Argief

’n Senior lid van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal na verwagting weer op 24 Maart in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die dood van sy vrou onder vreemde omstandighede.

Kleinbooi Mote Matlakeng (55) het homself aan die polisie oorgegee nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is, sê kapt. Loraine Earle, polisiewoordevoerder.

Matlakeng is Dinsdag (25/2) borgtog van R1 000 toegestaan ná sy verskyning in die hof wat verband hou met die moord op sy vrou, Dineo Matlakeng (50), tydens ’n huishoudelike dispuut in 2022. Hy staan tereg op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade.

Volgens Earle het die Vrystaatse polisie aansienlike vordering gemaak met die ondersoek rakende die voorval wat in November 2022 plaasgevind het, toe ’n vuurwapen in Hillside View afgevuur is.

Huishoudelike dispuut in 2022

“Matlakeng se inhegtenisneming kom ná ’n deeglike ondersoek, wat die polisie se verbintenis onderstreep om geregtigheid en aanspreeklikheid te verseker,” sê Earle. “ ’n Omvattende, voorlopige ondersoek het daartoe gelei dat ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek by die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) ingedien is vir ’n beslissing.”

Earle het ook genoem dat nadat die DOV bewyse nagegaan het, is ’n lasbrief vir Matlakeng se inhegtenisneming uitgereik en hy het hom daarna aan die polisie oorgegee.

Borgtog van R1 000 toegestaan

Lt.genl. Baile Motswenyane, die Vrystaatse polisiekommissaris, het die ondersoekers geloof vir hul noukeurige werk in die hantering van die saak. “Ek waardeer die toewyding en professionaliteit van ons ondersoekers. Hierdie hofverskyning is ’n bewys van ons onwrikbare verbintenis om die wet te handhaaf en te verseker dat geregtigheid onpartydig en sonder vrees of guns geskied,” het sy gesê.

Die ondersoek bly aan die gang, met die Vrystaatse polisie wat met die Opod-hoofkantoor saamwerk om te verseker dat alle interne prosesse behoorlik gevolg word.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.