Central SA
Mashatile gekritiseer by Oesdag op Bethlehem─── 08:09 Sat, 01 Mar 2025

Uitlatings op ’n oesdag by Bethlehem deur adj.pres. Paul Mashatile, wat gesê het hy wonder hoeveel buitelanders eienaars is van plase in die omgewing, is gekritiseer.
Mashatile is aangeraai om hom van ware feite te vergewis voordat hy sulke uitsprake maak.
‘n Oesdag van die Appelproduksie- en Agro-verwerkingsprojek is op 27 Februarie 2025 op die plaas Stead by Bethlehem gehou. Adj.pres. Paul Mashatile en die minister van landbou, John Steenhuisen, was onder die eregaste wat toesprake gelewer het.
Honderde mense, waaronder landboukundiges, opkomende en kommersiële boere, politici, voorsitters van boereverenigings en ander belangstellendes, het die dag met Stead Farm Fruit Growers as gasheer bygewoon.
Honderde mense het die dag met Stead Farm Fruit Growers as gasheer by Bethlehem bygewoon. Foto: Susan Maré
Die oorhoofse maatskappy Remmoho Capital Investments (RCI) is 100% ‘n swartbemagtigingsentiteit en besit 74% van die Stead Fruit Growers.
Kobus du Preez, ’n boer wie se plaas Stead oorspronklik was, besit die res en is ook in ’n adviserende hoedanigheid by die projek betrokke. Die hoofrolspeler op die plaas is Pitso Sekhoto wat hom op appelverbouing toespits.
Adj.pres. Paul Mashatile Foto: Vrystaatse Landboudepartement
Remmoho Apple Juice Concentrate is op Stead begin om appelkonsentraat te vervaardig en uit te voer en is steeds in ontwikkeling. Die geraamde waarde van die projek is R396,9 miljoen. Hiervan het die Vrystaatse provinsiale regering die afgelope twee jaar sowat R100 miljoen bewillig.
Mashatile het in sy toespraak gesê hy het op pad na Bethlehem verby baie groot plase gery en volgens die Vryheidsmanifes wil die ANC hê hierdie baie grond moet gedeel word. Hy het gewonder hoeveel buitelanders is eienaars van die grond met die baie landerye.
Adjunkpresident Mashatile, Mzwanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, en minister Steenhuisen by plaaswerkers. Foto: Vrystaatse Landboudepartement
Mashatile het voorts gesê oesproduksie is die resultaat van harde werk en die regering wil meer hiervan sien. Meer boorde moet op Stead aangelê word sodat die doel om gekonsentreerde appelsap te produseer en uit te voer ‘n werklikheid word.
Daar is baie grond in Suid-Afrika en mense moet toegang tot grond kry, het hy gesê. Die swart bevolking is volgens hom groot en die regering wil meer plase sien met swart eienaars. Hy het gevind dat KwaZulu-Natal die meeste jong swart boere onder al die provinsies het. Meer jong swart mense moet nasionaal toegang kry tot hul eie grond.
‘Ek is baie tevrede met die projek in Bethlehem’
“Hulle sê ons maak boere dood. Ons moet egter ook betrokke wees by veiligheid. Wat grondonteiening betref, sal daar prosesse wees. Landbou in Suid-Afrika moet groei en ons sal in samewerking met die minister van landbou, John Steenhuisen, met al die provinsies hieroor vergader. Ek is baie tevrede met die projek in Bethlehem.”
Tseki James Tseki, die burgemeester van Bethlehem, en minister John Steenhuisen. Foto: Susan Maré
John Steenhuisen het mense aangemoedig om betrokke te raak. Jong boere moet ontwikkel word met die hulp van besighede (kommoditeite) en sy departement wil met almal ondersteunend saamwerk.
Landbou bied baie aspekte waar jong mense gebruik kan word in administrasie, asook tegnologie en ander werksgeleenthede. Dit was vir hom inspirerend om te sien hoe Sekhoto en sy span die appelpakhuis suksesvol bedryf.
Fourie Scheepers, ‘n gevestigde kommersiële boer van Fouriesburg, ontmoet John Steenhuisen, landboouminister. Saam met hulle is Isoldé Laesecke, onafhanklike raadslid van die Dihlabeng Munisipaliteit. Foto: Susan Maré
Steenhuisen het ook gewaarsku dat Suid-Afrika sonder voedselsekuriteit in diep moeilikheid sal wees. Sy departement wil graag instrumenteel wees om boere te ondersteun sodat meer werksgeleenthede geskep kan word.
Landbou in Suid-Afrika is vir almal en moet toeganklik wees. Samewerking en die deel van kennis en kundigheid in die landboubedryf is baie belangrik.
Onder die kommersiële, gevestigde boere wat die Oesdag bygewoon het was adv. George Galloway, voorsitter van die Harrismith Distriksboere-unie. Hy het aan OFM Nuus gesê hy en van die ander boere wat die Oesdag bygewoon het, was stomgeslaan dat so ‘n projek in so ‘n kort tyd al jaarlikse feeste hou.
RCI is 100% ‘n swartbemagtigingsentiteit en besit 74% van die Stead Fruit Growers. Foto: Susan Maré
Dit het bekende en gevestigde boere in die vrugtebedryf in die distrik Fouriesburg, soos Denton Osler en Fourie Scheepers, 30 jaar geneem om 100 hektaar te vestig, het hy gesê.
“Ons was verder stomgeslaan dat Pitso Sekhoto van RCI daaroor droom om 2000 hektaar teen R1,5 miljoen per hektaar te vestig. Wat ons opgeval het toe ons die plaas binnegery het, was ‘n jong boord met appels. Daar was geen pale nie, geen besproeing nie en daar is geen opleidingsgeriewe op die plaas nie. Dis ‘n resep vir ‘n mislukking en die mense leef in ‘n gekkeparadys.
Adv. George Galloway, voorsitter van die Harrismith Distriksboerevereniging, en Fourie Scheepers, boer van Fouriesburg, praat met John Steenhuisen, landbouminister. Foto: Susan Maré
“Voorts dink ek adj.pres. Mashatile, wat gesê het hy wonder hoeveel buitelanders eienaars is van die plase waarby hulle verbygery het op pad na Bethlehem, moet hom van die ware feite vergewis voordat hy sulke uitsprake maak.
“Die dag was lank en vervelig. Ons kon wel ’n woord met die minister van landbou inkry en sal verder met hom praat.”