Central SA
Twee Vrystaatse huisagente skuldig aan bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Sat, 01 Mar 2025

Twee Vrystaatse huisagente sal na verwagting op 4 April na die hof terugkeer vir vonnisoplegging nadat hulle aan bedrog skuldig bevind is.
Teboho David Kolokomane (52) en sy medebeskuldigde, Teboho Diamond (43), is op Donderdag (27/2) deur die Bloemfonteinse landdroshof skuldig bevind aan bedrog, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, polisiewoordvoerder.
In September 2012 het die klaer R120 000 in die beskuldigde se bankrekening gedeponeer nadat sy belanggestel het om ’n huis te koop. Die bekuldigdes het beweer hulle verkoop die huis.
Volgens Mohobeleli, ten spyte van talle pogings deur die klaagster om die transaksie te finaliseer en haar nuwe huis in besit te neem, was haar versoeke om terugbetaling onsuksesvol. Die saak is daarna by die Valke aangemeld.
R120 000 gedeponeer
“Speurders van die Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid het ontdek dat die beskuldigdes die huis as aas gebruik het en twee bykomende niksvermoedende slagoffers bedrieg het.”
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat nie een van die beskuldigdes geregistreerde eiendomsagente was nie.
Dit is nie die eerste geval waar Diamond betrokke is by bedrieglike aktiwiteite van hierdie aard nie. Hy is in 2017 deur die Bloemfonteinse polisie gesoek nadat hy eiendomkopers uit aansienlike bedrae geld bedrieg het deur nie-bestaande huise en leë persele op bedrieglike wyse te verkoop. Diamond en sy vennoot, Paballo Patience Molibeli (28), het glo opgetree as agente wat eiendomme verkoop.
Verdwyn glo met R80 000
Molibeli was die eienaar van Empilweni Travel and Tours in Bloemfontein. Die twee was na bewering steeds op die vlug nadat hulle huiskopers uit meer as R1 miljoen bedrieg het. Altesaam 25 sake van bedrog is teen Molibeli geregistreer ná die blootstelling van bedrieglike transaksies in November 2014.
In 2012 het Diamond, toe 35, glo met R80 000 van ’n polisiebeampte by die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein verdwyn nadat hy ’n huis verkoop het wat nooit gerealiseer het nie. Hy het ’n paar maande later spoorloos verdwyn.
OFM Nuus cg