On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Boere op oesdag by Bethlehem ‘stomgeslaan’ oor appelprojek

───   08:09 Sat, 01 Mar 2025

Boere op oesdag by Bethlehem ‘stomgeslaan’ oor appelprojek | News Article
John Steenhuisen, landbouminister, het Vrydag deelgeneem aan die oes van appels tydens die Oesdagviering by Bethlehem. Foto: Susan Maré

Van die boere wat ’n oesdag op ’n plaas in die distrik Betlehem bygewoon het, was verbaas dat ’n jong projek so gou reeds kans sien om jaarliks feeste te hou.

Adj.pres. Paul Mashitile en John Steenhuisen, minister van landbou, was onder die eregaste wat toesprake gelewer het op die appelproduksie-en-landbouverwerkingsprojek Stead Fruit Growers se oesdag Donderdag (27/2). Dis bygegewoon deur landboukundiges, opkomende en kommersiële boere, politici, voorsitters van boereverenigings en ander belangstellendes.

Honderde mense het die dag met Stead Farm Fruit Growers as gasheer by Bethlehem bygewoon. Foto: Susan Maré 

Die oorhoofse maatskappy Remmoho Capital Investments (RCI), ’n 100% swart bemagtigde entiteit, besit 74% van die Stead Fruit Growers. Die boer Kobus du Preez, aan wie die plaas Stead oorspronklik behoort het, besit die res en is ook ’n adviseur van die projek.

Die hoofrolspeler op die plaas is Pitso Sekhoto, wat hom op appelverbouing toespits. Remmoho Apple Juice Concentrate, wat nog ontwikkel word, wil appelkonsentraat vervaardig en uitvoer. Die geraamde waarde van die projek is R396,9 miljoen, waarvan die Vrystaatse provinsiale regering die afgelope twee jaar sowat R100 miljoen bewillig het.

Adj.pres. Paul Mashatile Foto: Vrystaatse landboudepartement

Mashatile het in sy toespraak gesê hy het op pad na Bethlehem verby groot plase gery. Volgens die ANC se Vryheidsmanifes wil die party hê dié groot stukke aarde moet gedeel word. Hy het hardop gewonder hoeveel buitelanders eienaars is van die grond met die baie landerye.

Oesproduksie is die resultaat van harde werk, en die regering wil meer hiervan sien, het Mashatile vervolg. Meer boorde moet op Stead aangelê word sodat die doel om gekonsentreerde appelsap te produseer en uit te voer, ’n werklikheid kan word. Daar is baie grond in Suid-Afrika en mense moet toegang daartoe kry.

Adjunkpresident Mashatile, Mzwanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, en minister Steenhuisen by plaaswerkers. Foto: Vrystaatse Landboudepartement

Die swart bevolking is groot, en die regering wil meer plase sien met swart eienaars, het Mashatile gesê. Hy het opgemerk KwaZulu-Natal het die meeste jong swart boere. Syns insiens moet meer jong swart mense landwyd toegang tot hul eie grond hê.

“Hulle sê ons maak boere dood. Ons moet egter ook betrokke wees by veiligheid. Wat grondonteiening betref, sal daar prosesse wees. Landbou in Suid-Afrika moet groei, en ons sal in samewerking met (die landbouminister) met al die provinsies hieroor beraadslaag. Ek is baie tevrede met dié projek by Bethlehem.”

Tseki James Tseki, die burgemeester van Bethlehem, en minister John Steenhuisen. Foto: Susan Maré

Steenhuisen het op sy beurt mense aangemoedig om betrokke te raak. Jong boere moet ontwikkel word en sy departement wil met almal ondersteunend saamwerk.

Jong mense kan in vele fasette van die landbou aangewend word, van administrasie en tegnologie tot ander werksgeleenthede. Dit was vir hom inspirerend om te sien hoe Pitsho en sy span die appelpakhuis suksesvol bedryf.

Steenhuisen het intussen gewaarsku Suid-Afrika sal sonder voedselsekerheid diep in die nood verkeer. Sy departement wil instrumenteel wees om boere te ondersteun sodat meer werksgeleenthede geskep kan word. 

Fourie Scheepers, ’n gevestigde kommersiële boer van Fouriesburg, ontmoet John Steenhuisen, landboouminister. Saam met hulle is Isolde Laesecke, onafhanklike Dihlabeng-raadslid. Foto: Susan Maré

Landbou in Suid-Afrika is vir almal daar en moet toeganklik wees. Samewerking en die deel van kennis en kundigheid in die landboubedryf is egter belangrik, het Steenhuisen gesê.

Een van die gevestigde boere wat die oesdag bygewoon het, adv. George Galloway, voorsitter van Harrismith se distriksboerevereniging, het aan OFM Nuus gesê hy en van die ander boere was verbaas dat ’n projek van dié aard binne so ’n kort tydjie al feeste hou. 

Dit het 30 jaar geduur voor vooraanstaande boere in die vrugtebedryf in die distrik Fouriesburg, soos Denton Osler en Fourie Scheepers, 100 ha kon vestig.

RCI is ’n 100% swart bemagtigde entiteit en besit 74% van die Stead Fruit Growers. Foto: Susan Maré

“Ons was verder stomgeslaan dat Pitso Sekhoto van RCI daarvan droom om 2 000 ha teen R1,5 miljoen/ha te vestig. Wat ons opgeval het toe ons die plaas binnery, was ’n jong boord met appels. 

“Daar was geen pale nie, geen besproeiing nie, en daar is geen opleidingsgeriewe op die plaas nie. Dis ’n resep vir ’n mislukking, en die mense leef in ’n gekkeparadys.”

Adv. George Galloway, voorsitter van Harrismith se distriksboerevereniging, en Fourie Scheepers, boer van Fouriesburg, praat met John Steenhuisen, landbouminister. Foto: Susan Maré

Galloway raai Mashatile aan om hom van die feite te vergewis voor hy hardop wonder oor buitelandse besit van plase. Hy meen die dag was “lank en vervelig”. Hulle kon wel ’n woord met die landbouminister inkry en sal verder met hom praat.

OFM Nuus/Susan Maré cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.