On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Food

Good Morning Breakfast Melktertmeesters: Ons finale 4

───   13:52 Wed, 26 Feb 2025

Good Morning Breakfast Melktertmeesters: Ons finale 4 | News Article
Vind uit wie is OFM se Melktertmeester 2025. Foto: OFM

Luisteraars het hul vertroude melktertresepte ingeskryf vir ’n kans om ’n R3 000-kruideniersbewys te wen!

So … wie se tert het die Good Morning Breakfast-span se smaakknoppies betower? Bly ingeskakel Donderdagoggend (27/2) om uit te vind!

Hier is die finaliste:

Geraldine Mong van Bethlehem


“Hierdie resep is al jare in my familie en dis die enigste melktertresep wat ons gebruik!"

Bestanddele:

2 eiers
3/4 koppie botter
1/2 koppie suiker
2 koppies koekmeel
2 teelepels bakpoeier
1/2 teelepel sout

Metode:

Klits eiers, botter en suiker saam, sif meel, bakpoeier en sout saam, druk vas in gesmeerde tertpan. Bak tot ligbruin teen 180 °C.

Vulsel: 

4 koppies volroom melk
4 eiers
2 eetlepels koekmeel
6 eetlepels Maizena
3/4 koppie suiker
1 eetlepel botter
1 teelepel vanieljegeursel

Metode: 

Skei eiers. 2. Klits eiergele met bietjie melk. Gooi koekmeel, Maizena, en suiker in eiergele en meng tot glad. Bring melk tot kookpunt. Voeg eiergeelmengsel by gekookte melk. Kook tot dik terwyl jy aanhoudend roer. Voeg botter en vanieljegeursel by melk en roer goed deur. Klits eierwitte tot styf en vou by mengsel in. Gooi oor kors en strooi kaneel oor. Plaas in die yskas tot dit koud is.


Leatitia Fourie van Sasolburg:


My Ma se “famous” melktert

Sy is Mei 2024 oorlede en ek moes op my eie leer hoe om haar melktert te maak. Hierdie is verreweg dié beste melktert.

Bestanddele:

Kook saam op lae hitte:
1 blik kondensmelk
3 blikke water
1 eetlepel botter

Meng in ander bak:
2 eiers
1 teelepel vanieljegeursel
6 eetlepels mielieblom

Metode:

Gooi warm mengsel by eiermengsel en kook dan weer op die stoof op lae hitte.
Maak 2 pakkies Tennis-beskuitjies fyn en meng 2 eetlepels gesmelte botter saam. Druk die koekies teen die kante van die bak en pak ’n laag beskuitjies onder in die bak.Gooi warm mengsel bo op koekies en strooi kaneel bo oor.
Laat afkoel.

Dan met jou eerste happie, sê dankie vir alles wat jou ma jou geleer het, en as sy nog met jou is, bel haar …mens weet nooit wanneer is dit die laaste oproep nie.


Maryna Geldenhuys van Orkney:

Melktert met koekkors

“Die vlapoeier maak hom ekstra lekker met baie liefde.”

Bestanddele:

Vir die kors:
½ koppie botter
1½ koppie meelblom
¾ koppie melk
½ teelepel amandelgeursel
½ koppie suiker
1 eier
3 teelepels bakpoeier
Knippie sout

Metode:

Klits botter en suiker tot romerig. Voeg die eier by en klits goed. Voeg die gesifte meelblom en bakpoeier om die beurt met die melk by. Smeer dun met mes in gesmeerde en meelbestrooide tertborde (2).

Vulsel:
4 koppies melk
1 eetlepel vlapoeier
4 eiers
½ koppie suiker
1 eetlepel mielieblom
1 eetlepel meelblom
Knippie sout

Metode:

Kook melk. Maak droë bestanddele aan met geel van eiers in ’n bietjie melk tot gladde pasta. Voeg by kookmelk. Laat afkoel en voeg styfgeklitste eierwitte by. Skep in kors. Strooi kaneel oor en bak.


Zanri Viljoen van Marydale:

Marydale se lekkerste melktert esep – op die stoof voorberei!! Ek is ’n lui mamma so as ek die tert vir my seuntjies maak is dit sonder ’n korsie, maar die dag as ek dit vir kuiergaste maak, maak ek ’n korsie met fyn gedrukte tennisbeskuitjies wat ek met botter gemeng het.

Bestanddele:
1 liter melk
250 g egte botter
Kook saam in groot pot

Meng apart
3 eiers
3 eetlepels Maizena
3 eetlepels koekmeel
1,5 koppie suiker

Metode:

Gooi van die gekookte melk-en-bottermengsel bietjie vir bietjie by die eiermengsel tot die eiermengsel amper so warm is soos die melkmengsel. Gooi dan die warm eiermengsel terug saam die melkmengsel in die pot en kook vir 2 minute (tot gaar). Roer dan 15 ml vanieljegeursel by. Giet in ’n vooraf voorbereide glasbak.

OFM dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.