On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskap dra Sasolburg-dominee se gesin ná kanker sy lewe eis

───   KAREN VAN DER BERG 13:59 Tue, 25 Feb 2025

Gemeenskap dra Sasolburg-dominee se gesin ná kanker sy lewe eis | News Article
Ds. Dirk Kruger het ’n groot liefde vir sy gesin gehad. Hier is hy saam met sy vrou Elmarie, en hulle twee kinders, Christiaan en Eldoné. Foto verskaf

In elke deel van sy lewe het die evangelie van Jesus Christus in ds. Dirk Kruger se lewe ingeskyn.

Só bring ds. Peter Hattingh van die Gereformeerde Kerk Vanderbijlpark-Trinitas, hulde aan sy kollega, wat drie maande ná sy 45ste verjaardag aan kanker oorlede is.

Kruger, wat sedert Mei 2019 leraar van die Gereformeerde Kerk Vaalpark op Sasolburg was, is op 17 Februarie aan lewerkanker oorlede. Vanaf 2013 was sy eerste gemeente Zeerust. 

Hattingh het op 19 Januarie die erediens gelei waartydens Kruger sy emeritaat aanvaar het omdat hy te siek was om langer sy pligte uit voer.


Hattingh het ook Kruger se begrafnisdiens Saterdag (22/2) gelei. Hy vertel: “Dirk was ’n mens wat diep geluister het. Hy het ook sin gepraat. Ek sal Dirk onthou as iemand wat baie meer oor sy vrou en kinders gepraat het as oor homself. Hy was baie lief vir hulle.”

Die egpaar het twee kinders, Christiaan (9) en Eldoné (7).

Hattingh sê Kruger kon ondanks sy siekte lekker lag. “Hy het sy kruis blymoedig gedra. Hy was altyd meer oor ander besorg as oor homself.”

Ds. Dirk Kruger se dood is ’n reuseverlies vir sy gemeente en die gemeenskap. Foto verskaf

Sy vrou, Elmarie, sê hulle verlies is enorm. “Dirk was ’n wonderlike eggenoot en pappa gewees. Hy was geduldig, innemend, diep gelowig en het ’n omgeehart gehad vir mense. Hy het sy roeping as predikant voluit uitgeleef en empatie gehad.”

Sy sê sedert Kruger se dood stroom die huldeblyke in. “Familie, vriende en kollegas is hartseer oor Dirk se heengaan, maar dankbaar dat sy lyding tot ’n einde gekom het.”

Lewerkanker is op 18 Maart 2023 by Kruger gediagnoseer. Vier jaar tevore is hy suksesvol vir kolonkanker behandel.

Die Kruger-gesin is dankbaar oor die ondersteuning. Foto verskaf

Elmarie sê hulle gesin is dankbaar oor die ondersteuning wat hulle kry. “Die gemeenskap en gemeente Vaalpark ondersteun ons ongelooflik baie. Hulle dra ons met liefde en omgee.”

Sy sê aandetes word al die afgelope twee maande voorsien en hou steeds aan. “Dit wat ons ervaar, is ’n voorbeeld van naasteliefde en omgee. Dit is mense wat hulle geloof prakties uitbeeld.”

Sy bedank ook die kerkraad vir hul begrip en ondersteuning die laaste paar jaar en maande.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.