Central SA
Werkers van Bloemfonteinse oudlanddros bly in aanhouding─── ZENANDE MPAME 12:09 Tue, 25 Feb 2025

Die twee beskuldigdes in die moord op ’n Bloemfonteinse oudlanddros verskyn Vrydag (28/2) in die Bloemfonteinse landdroshof.
Letiscia Adams (42) se borgtogaansoek is van die hand gewys en sy bly in aanhouding ná die voortsetting van haar aansoek en verdere kruisondervraging van die ondersoekbeampte verlede Vrydag.
Jan Deal (51) het sy borgaansoek laat vaar nadat sy adres nie bevestig kon word nie. Die twee staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord en regsverydeling.
“Borgtog is geweier vir Letiscia Adams ná kruisondervraging deur die ondersoekbeampte, Jan Greeff,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. “Die saak is uitgestel tot Vrydag (28/2) vir verdere ondersoeke, en Adams bly in aanhouding.”
Deal het op Sondag 12 Januarie teenoor die polisie erken dat hy Piet Bester (63) op sy plaas in die omgewing van Glen Bloemfontein met ’n graaf en tuinvurk aangerand het.
Die twee het langer as 17 jaar op Bester se plaas gewerk en gewoon. Hulle is in hegtenis geneem op dieselfde dag wat Bester se liggaam met veelvuldige wonde gevind is. Hy was ’n voormalige landdros en het ook as stut vir die Vrystaat en Griekwaland-Wes uitgedraf.
Die ondersoekbeampte moes Donderdag 13 Februarie die drie aanklagte teen Deal en Adams verduidelik:
- Roof met verswarende omstandighede: Bester se Absa-bankkaart is gesteel en later in Adams se besit gevind tydens ’n onderhoud by die polisiekantoor. Een van Bester se selfone is steeds weg, maar die polisie probeer dit opspoor. Kontant uit sy beursie het ook ontbreek.
- Moord: Deal het aan die polisie erken dat hy Bester met ’n graaf en ’n tuinvurk aangerand het.
- Regsverydeling: Die beskuldigdes het versuim om die polisie in te lig oor Bester se dood, en sy liggaam kon moontlik een of twee nagte lank daar gelê het, aangesien dit reeds ontbind het toe dit gevind is.
Die beweerde moordwapens – ’n graaf en ’n tuinvurk – is ná die aanval terug na die pakkamer geneem en van die misdaadtoneel verwyder.
Toe Adams in die hof gevra word waarom sy nie haar werkgewer se dood aangemeld het nie, het sy gesê sy was bang Deal rand haar aan.