Central SA
Petisie oorhandig vir vrylating van SA ingenieurs in Wes-Afrika─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:56 Tue, 25 Feb 2025

Geliefdes van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat al byna twee jaar in ’n Wes-Afrikaland aangehou word, gaan ’n versoekskrif met meer 15 000 handtekeninge by die regering indien om onmiddellike optrede te eis.
Frik Potgieter, van George, en Peter Huxham, van Langebaan aan die Weskus, word reeds langer as twee jaar in Ekwatoriaal-Guinee aangehou. Hulle is op 9 Februarie 2023 op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo in hegtenis geneem nadat die polisie beweer het dwelms is in hul bagasie gevind.
Hulle sou die volgende dag teruggekeer het nadat hulle ’n werkrotasie van vyf weke vir hul werkgewer, SBM Offshore, voltooi het. Albei ingenieurs het jare lank by die Nederlandse olie-en-gasmaatskappy Single Buoy Mooring gewerk.
’n Verhoor is op 26 Junie verlede jaar gehou. Drie dae later is Potgieter sowel as Huxham aan dwelmhandel skuldig bevind. Hulle is elk tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis en met $5 miljoen beboet, tesame met bykomende gesamentlike boetes.
LEES OOK: Petisie begin vir SA mans se vrylating
Die familiewoordvoerders, Shaun Murphy en Francois Nigrini, sê in die petisie word geëis dat die Suid-Afrikaanse en Britse regering ingryp en die onmiddellike vrylating van die twee ingenieurs bewerkstellig. Huxham het dubbele burgerskap.
Peter en Kathy en Frik en Sonja. Foto: Facebook
“Die petisie sal formeel ingedien word by Ronald Lamola, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Thokozile Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering, en Supra Mahumapelo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking,” sê Murphy.
Die twee mans se geliefdes meen die oorweldigende openbare steun vir die petisie beklemtoon die dringendheid van diplomatieke ingryping. “Die oorweldigende steun vir hierdie petisie dra ’n duidelike boodskap oor: Suid-Afrikaners en die internasionale gemeenskap weier om die voortgesette aanhouding van Frik en Peter te aanvaar,” sê Murphy en Nigrini.
“Met elke handtekening sluit ’n ander stem by ons aan en sê: Genoeg is genoeg. Twee jaar is heeltemal te lank – hierdie onskuldige mans moet nou vrygelaat word.”
LEES OOK: Familie pleit vir ingenieurs se vrylating voor Kersfees
Hy sê die families vra Lamola en pres. Cyril Ramaphosa moet dringend werk maak van die saak en aanhoudend met die leiers van Ekwatoriaal-Guinee skakel tot die twee ingenieurs vrygelaat word.
“Hulle doen vra ook die Britse regering moet volgehoue druk op Ekwatoriaal-Guinee toepas. Voorts vra die families die Suid-Afrikaanse parlement moet verseker dat die regering sy resolusie van Oktober eerbiedig waarna hy verklaar dat “elke diplomatieke weg dringend ondersoek moet word”.
Pres. Teodoro Obiang Nguema Mbasogo van Ekwatoriaal-Guinee word versoek om genadig te wees en die mans vry te laat.
Begrafnisse van geliefdes misgeloop
“Elke dag wat Frik en Peter in die tronk bly, is nog ’n dag waarvan hulle beroof word, nog ’n dag van lyding vir hul gesin, sê Nigrini. “Ons tyd raak min.
“Hul gesondheid, sowel as die gesondheid van sommige van hul familielede, gaan agteruit. Ons is diep bekommerd. Hul onwettige aanhouding het ook verhoed dat die mans begrafnisse van hul geliefdes bywoon. In sommige gevalle is hulle nie eens bewus van die hartseer verliese nie.”
In Julie het die VN se werkgroep oor arbitrêre aanhouding ’n formele verklaring uitgereik waarin hulle verklaar dat die aanhouding van Potgieter en Huxham onwettig en arbitrêr was.