Central SA
Raar maar waar: Bloemfontein se eie ‘wynroete’─── KAREN VAN DER BERG 08:58 Mon, 24 Feb 2025

Bloemfontein is nie ’n bestemming wat gewoonlik as een van Suid-Afrika se wynroetes opduik nie.
Tog pryk ’n klein wynroete en pragtige wingerde aan die buitewyke van Langenhovenpark. Die Soutpansberglaan-wynroete bestaan uit drie wynplase, waar smaaklike wyn op die mees onverwagte plek verbou word.
Die verhaal van hoe Leon Ehlers, van Spitskop Wijnbouw, wynbou opgeneem het, is ’n storie van veerkragtigheid en ontdekking.
Leon Ehlers, van Spitskop Wijnbouw, laat jou voel of jy in die Boland kuier met sy wingerde en kelders, dít in Bloemfontein. Foto: Karen van der Berg
Dié stadsbeplanner van beroep het in 2015 begin met die aanplanting van die wingerde. Die belangstelling in wyn is net ’n stokperdjie, wat nou uitgekring het.
Hoewel Bloemfontein se klimaat nie as heeltemal geskik vir wynbou beskou word nie, aard sekere kultivars wel goed hier, vertel Ehlers. Hy het vyf kultivars. Twee witwyne: viognier en colombar; en drie rooiwyne: cabernet sauvignon, malbec en ’n grenache.
Om die wingerde teen die ryp te beskerm, word die dwarsbalk waarteen die wingerd moet rank hoër gemaak en die hele plant bietjie gelig.
“Aanvanklik het ek die wyn vir myself begin maak. Maar op die oomblik kry ek tot 1 200 bottels wyn gebottel en sal graag binnekort die mark wil betree.”
Ehlers is baie trots op die feit dat alles wat sy wingerd betref, plaaslik en met die hand, gedoen word. Foto verskaf
Alles hier word met die hand gedoen en plaaslik vervaardig. “Ek dink dit wat ons hier lewer, is uniek.”
Ehlers vertel die wingerd is wel ’n voltydse werk en moet elke dag aandag en liefde kry om te floreer. “Daar is kunsmis en water wat gegee moet word. En takkies moet gesnoei word en sommige takke moet uitgepluk word.”
Die druiwe is einde Januarie ryp en moet dan geoes word. Die suikerinhoud in die vrugte bepaal wanneer dit gepluk moet word, want dit bepaal die alkoholvlak.
Sekere kultivars aard wel goed in Bloemfontein, sê Ehlers. Foto verskaf
Die wit- en rooiwyn gaan deur verskillende prosesse om gebottel te word. Dit duur sowat vier maande voordat die witwyn gereed is en sowat agt maande vir die rooiwyn.
Ehlers, wat geen formele wynmaakopleiding het nie, sê alles wat hy oor wynbou geleer het, het hy uit belangstelling gedoen en self nagevors. “Ek is wel baie lief vir die wynlande en besoek graag wynplase wanneer ek daar is.”
Hy sê vandat hy begin wyn maak het, het hy soveel ondersteuning en belangstelling van Bloemfonteiners gekry. Dit is vir hom ’n riem onder die hart.
’n Besoek aan Spitskop Wijnbouw laat jou voel of jy in die Boland kuier. Foto verskaf
Hy kyk juis nou na moontlikhede om uit te brei en selfs dalk ’n klein bistro op sy hoewe te begin vir mense om sy wyne te geniet. Hy glo wyn is nostalgies en word met lekker kuier en goeie vriende vereenselwig. “Dit skep herinneringe.”
Hy sê wingerd en wyn het oor die algemeen ook heelwat Bybelse simboliek. “Dit is vir my so groot voorreg om eeueoue tradisies voort te sit. Selfs die skinking van die wyn is vir my besonders. Wyn onderskei homself, want dit is uniek. Dit is deel van soveel feesvieringe en goeie tye.”