Central SA
Potchefstroomse hondeaanval: Egpaar word wel vervolg─── ZENANDE MPAME 14:46 Thu, 27 Mar 2025

Die saak teen die egpaar wie se drie Amerikaanse veghonde hul huishulp aangeval het, is uitgestel tot Woensdag 28 Mei ná ’n beslissing dat die saak voortgaan.
Die het weer Woensdag (26/3) in die Potchefstroomse streekhof voorgekom, waar die egpaar se aansoek om alle aanklagte teen hulle te laat vaar, van die hand gewys is.
Die aansoek om die saak van die hofrol te skrap, is ook afgekeur. Marno en Chandré Mostert het in Augustus die plaaslike landdroshof verskyn om ’n versoek aan die direkteur van openbare vervolgings te rig om die saak te laat vaar.
Die egpaar tydens een van die hofsake. Foto: Wouter Pienaar/Potchefstroom Herald
Die egpaar het aangevoer dat ’n skuldigbevinding onwaarskynlik is en dat die gedurige uitstellery van die saak hulle benadeel.
“Ons is Woensdag in kennis gestel dat ons aansoek aan die direkteur van openbare vervolgings om die saak van die hofrol te verwyder, onsuksesvol was,” sê Malan Schutte, hul prokureur.
“Ons het versoek dat die saak van die rol geskrap word, aangesien die herhaalde uitstellery die klaer sowel as die Mosterts se grondwetlike reg op ’n spoedige verhoor skend.” Een van die redes vir die vertraging was ’n bykomende klag teen die egpaar ná bewerings dat die honde Dipuo Kokolosi reeds voorheen gebyt het.
Die 48-jarige is na bewering in Januarie 2022 deur haar werkgewers se drie veghonde aangeval. Haar neus, lippe, ore en dele van haar dye, bene en hande is verskeur.
Sy het in Januarie verlede jaar rekonstruktiewe chirurgie ondergaan om haar neus kosmeties te herstel. Sy is glo aangeval terwyl sy alleen in die huis skottelgoed gewas het.
’n Buurman het haar gille gehoor en gaan ondersoek instel. Hy het die drie honde bo-op haar gesien en ’n waarskuwingskoot afgevuur. Toe die honde hom aanval, het hy op hulle geskiet om sy en Kokolosi se lewe te red.