Central SA
Noord-Kaapse konstabel kry borg ondanks ernstige aantygings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:36 Thu, 13 Feb 2025
![Noord-Kaapse konstabel kry borg ondanks ernstige aantygings Noord-Kaapse konstabel kry borg ondanks ernstige aantygings | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/8a456bfe-ab90-4593-afb3-2ac4934f5d2b.jpg?crop=0,12,428,253)
’n Polisiekonstabel van Upington wat aangekla word van verkragting, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer, is vrygelaat op borgtog.
Luthando Meintjies (27) is Woensdag (12/2) in die Upingtonse landdroshof borgtog van R1 000 toegestaan, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
“Die NVG het aanvanklik die borgtog teengestaan weens kommer oor gemeenskapsveiligheid, maar dit is uiteindelik toegestaan.”
Meintjies het skuld ontken op alle aanklagte. Hy moet Woensdag weer voorkom.
Luthando Meintjies. Foto: Facebook
Meintjies het na bewering in die nag van 15 November saam met die klaagster (23) na sy woonplek teruggekeer nadat albei gedrink het.
“Die beskuldigde het na bewering geëis dat die klaagster haar ma bel om geld te vra om nog drank te koop. Toe sy nie die geld by haar ma kon kry nie, het Meintjies haar na bewering begin aanrand en deur die loop van die nag meer as een maal verkrag,” sê Senokoatsane.
Hy sê die klaagster het probeer ontsnap deur in die badkamer weg te kruip, maar Meintjies het glo die deur afgebreek. “Tog kon sy teksboodskappe aan haar oom stuur en hom vra om haar te kom help.”
Die Kakamas-polisie is steeds opsoek na die verdagte. Foto verskaf
Die oom is saam met die polisie na die beskuldigde se huis, waarna Meintjies in hegtenis geneem is. Die ondersoek duur voort.
Elders in Gordonia soek Kakamas se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ’n verdagte in verband met ’n verkragting naby Voortrekkerstraat op 26 Januarie, sê sers. Omphile Masegela. Die verdagte het na bewering die slagoffer en haar kêrel aangeval voordat hy teruggekeer het om die slagoffer te verkrag.
Die polisie vra enigiemand met inligting moet konst. Lesego Mokati by 079 697 7836 nader. Alle inligting sal streng vertroulik gehanteer word.
OFM Nuus mvh